Gewapende rowers val Limpopo-plaas aan, polisie kry vuurwapens en gesteelde voertuig terug

In die vroeë oggendure van Woensdag, 8 Januarie, het ‘n groep gewapende verdagtes op ‘n plaashuis in Musina toegeslaan en ‘n egpaar en hul drie minderjarige kinders beseer gelaat.

Die verdagtes het die gesin met vuurwapens gedreig, elektroniese goedere en vuurwapens gesteel voordat hulle met die slagoffers se voertuig van die toneel gevlug het. Die slagoffers, wat ernstig beseer is, het hulp by ‘n buurman gesoek, wat die polisie dadelik in kennis gestel het.

“Die slagoffers is gemartel en het ernstige beserings opgedoen tydens die roofvoorval,” het brigadier Hlulani Mashaba, polisiewoordvoerder, gesê.

Hulle is na die hospitaal geneem vir mediese behandeling.

Na ‘n intense ondersoek het polisiebeamptes vyf gewere en ‘n pistool by ‘n HOP-huis in Campbell (Cambo) gevind wat die verdagtes beoog het om te huur.

Mashaba het bevestig dat die slagoffer se voertuig verlate naby ‘n stortingsterrein in Musina-polisiëringsgebied gevind is.

Limpopo polisiekommissaris, luitenant-generaal Thembi Hadebe het die polisie se vinnige reaksie geloof en die slagoffers ‘n spoedige herstel toegewens.

Die polisie het ’n saak vir verdere ondersoek geopen en doen ’n beroep op enigiemand met inligting oor die verdagtes om na vore te kom.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui