Altesaam vier plaasaanvalle het vandeesweek binne ʼn tydperk van slegs 48 uur op plase in Sentraal- en Wes-Transvaal plaasgevind.
ʼn Groot groep aanvallers het glo Woensdagoggend omstreeks 01:40 op verskeie plaaswerkers in hul huise op ʼn groenteplaas by Tarlton in Sentraal-Transvaal toegesak.
“Een werker is in die maag geskiet en is in die hospitaal opgeneem. Die ander werkers kon daarin slaag om hulp van die buurplaas te ontbied,” sê Sean Minne, bestuurder by die Custodia sekuriteitsmaatskappy.
“Ons het dadelik op die voorval gereageer, waarna ons bevind het dat van die plaaswerkers van kontant beroof is. Maar danksy die vinnige reaksie van die ander werkers kon die aanvallers nie by die boer se huis uitkom nie. Die verdagtes het van die toneel gevlug en niemand is nog in hegtenis geneem nie,” sê Minne.
Skaars ʼn uur later is nog ʼn plaasaanval by Vlakdrift in Wes-Transvaal aangemeld. ʼn Groep van nege gewapende aanvallers het glo omstreeks 02:45 die plaaswerkers oorrompel en verskeie skote op hulle afgevuur. Een werker is in sy skouer en been geskiet. Die aanvallers het daarna ook die plaashuis aangeval.
“Die aanvallers het voor die boer en sy vrou se kamervenster gestaan en skote op hulle afgevuur.”
Die egpaar kon egter daarin slaag om van die bed na die badkamer toe te kruip en het hulself daar toegesluit.
“Die boer het sy vuurwapen by hom gehad, dit dadelik gelaai en hulp ontbied. Die verdagtes het daarna van die toneel gevlug en niemand is nog in hegtenis geneem nie. Die plaaswerker is steeds in die hospitaal.”
ʼn Derde plaasaanval is Woensdagoggend in Koster, Wes-Tranvaal aangemeld. Twee gewapende mans het glo ʼn boer met ʼn vuurwapen en ʼn panga oorrompel.
Brig. Sabata Mokgwabone, polisiewoordvoerder, sê die verdagtes was glo op soek na geld, maar kon nie enige kontant in die huis vind nie. ’n Trouring, polshorlosie en Samsung-selfoon is wel gebuit.
Twee plaaswerkers is deur een van die verdagtes buite die huis aangehou, maar kon later glo wegkom om hulp te ontbied.
Die aanvallers het kort daarna met die boer se Isuzu-bakkie van die toneel gevlug. Die bakkie het egter ongeveer ʼn kilometer van die huis af in die modder vasgeval, en ʼn motor met twee insittendes het die drie verdagtes opgelaai en van die toneel gevlug.
Danksy die hulp van ander boere in die gemeenskap en die polisie is die verdagtes kort ná die voorval aangekeer. Die verdagtes het aanvanklik uit die motor geklim en in verskillende rigtings gehardloop. Lungelo Mavuso (25), Thabiso Ngwenya (27), Siboniso Magagula (30), Christopher Mothibe (48) en Punuka Van Rooyen (51) is egter gou in hegtenis geneem en het Vrydag in die rondgaande hof op Koster op aanklag van huisroof verskyn.
“Volgens die voorlopige ondersoek is Mothibe en Van Rooyen inwoners van Koster terwyl die ander drie beskuldigdes van Piet Retief in Mpumalanga is,” sê Mokgwabone.
Die beskuldigdes bly in aanhouding tot hulle volgende week weer in die hof sal verskyn.
ʼn Vierde plaasaanval is Donderdagoggend omstreeks 02:30 by Syferbult in wes-Transvaal aangemeld.
Ongeveer nege aanvallers het verskeie skote op ʼn boer en sy seun se slaapkamervensters afgevuur. Die seun is glo in die gesig geskiet en is tans in ʼn kritieke toestand in die hospitaal.
“Die boer het glo ook skote afgevuur met sy pistool wat leë patrone skiet. Die verdagtes het vermoed dat dit ʼn regte vuurwapen is en het van die toneel gevlug.”
Minne sê die boer het in sy bakkie geklim om hulp by die buurplaas te gaan soek, maar het beheer oor die voertuig en dit het gerol.
“Hy het glo uit die bakkie geklim en na die bure toe gehardloop. Die nooddienste is ontbied en niemand is nog in hegtenis geneem nie.”
Minnie benadruk dat die modus operandi van die plaasaanval by Vlakdrift en die een by Syferbult ooreenstem deurdat “die aanvallers in groepe van nege opdaag het en verskeie skote deur kamervensters afvuur het”.
“In albei van hierdie voorvalle het die aanvallers ook ʼn haelgeweer en ʼn 9 mm-pistool in hul besit gehad,” sê Minne.
Koster is ongeveer 48.6km van Syferbult af op die R509, die afstand tussen Syferbult en Vlakdrift is 40km op die R24 en R509. Koster en Vlakdrift is verder van mekaar – ongeveer 86.7km op die R509.