“Vervaardigingsproduksie is jaar-tot-jaar laer, al was daar byna geen beurtkrag nie,” sê Lings.
Vir die rand om tot sowat R16 teenoor die dollar te versterk, sal die land moet wys hy het sy beleid omgedraai.
Die aansienlike verswakking van die rand teenoor die dollar sedert middel Desember is 20% toe te skryf aan ‘n sterker dollar en 80% weens plaaslike faktore, soos Suid-Afrika se swak groei, sê Stanlib se hoofekonoom, Kevin Lings.
Die rand het die afgelope drie weke skerp gedaal teenoor die dollar. Die Suid-Afrikaanse geldeenheid het Vrydag deur die R19-vlak gebreek en omstreeks 17:00 teen R19,10 verhandel. Dit is meer as 7% swakker teenoor die dollar vergeleke met ‘n maand gelede.
Hierdie week alleen het die geldeenheid sy grootste daling sedert Junie verlede jaar gesien.
Hoewel van die randswakheid aan dollarsterkte toegeskryf kan word, is dit nie die enigste verklaring nie, sê Lings.
Die rand is fundamenteel swak – nie net swak teenoor die dollar nie. Die skerp daling in die rand weerspieël ‘n uitgesproke swakheid wat ‘n meer spesifieke verduideliking vereis, en verskeie faktore is ter sprake, merk Ling op.
“Mens kan sê 20% van die beweging in die rand hou verband met die rentekoersbesluit deur die Amerikaanse Federale Reserweraad in Desember. Die algemene verwagting is dat die Fed waarskynlik nie so aggressief sal sny as wat voorheen in die vooruitsig gestel is nie. En as jy nie koerse soveel sny nie, is dit geneig om jou geldeenheid te ondersteun. In hierdie geval ondersteun dit die dollar.”
Op sy Desember-vergadering het die Fed rentekoerse met 25 basispunte verlaag, en die verwagting is dat ‘n koersverlaging in Januarie onwaarskynlik is.
Annabel Bishop, hoofekonoom van Investec, merk op dat finansiële markte een verlaging in die Amerikaanse rentekoerssiklus verwag – in Junie – in teenstelling met vorige verwagtinge van ‘n rentekoersverlaging vandeesmaand, nog een in Junie en ‘n derde in Oktober.
Bloomberg het Donderdag berig dat die Amerikaanse verkose president Donald Trump se uitsprake oor die afkondiging van ‘n nasionale ekonomiese nood die dollar se sterkte versterk het.
“Trump is oral met beleidsuitsprake – sommige daarvan sal die dollar ondersteun en ander nie.”
Lings is van mening dat 80% van die rand se huidige beweging egter meer SA-spesifiek is.
“Eerstens is die mengsel van handel in ons ekonomie baie kommoditeitsgefokus.”
China se probleme om groei effektief te herstimuleer beteken dat sy ekonomie heel waarskynlik sal aanhou verlangsaam. Die land sal minder gefokus wees op vaste beleggingsaktiwiteite met ‘n laer vraag na kommoditeite. “Dit het ‘n negatiewe uitwerking op Suid-Afrika,” sê Lings.
Nog ’n binnelandse faktor is dat Suid-Afrika nie ’n “groeiverhaal” het nie.
“Ons het die ligte weer aangeskakel, maar dit het min effek op die groeidinamika gehad.
By die mengsel is die “ewige uitvloei” van geld uit Suid-Afrika. “Vir die laaste 19 maande in ‘n ry was buitelanders netto verkopers van SA aandele in dollars. Ek sou redeneer dit weerspieël ons gebrek aan ‘n groeidinamiek.”
Lings stel die billike waarde van die rand op sowat R17,80 tot R17,90 teenoor die dollar.
“Die geldeenheid is nou onder billike waarde – jy kan sê ietwat onderwaardeer, maar ek sal nie sê dit is ‘n uiters swak geldeenheid onder huidige omstandighede nie.
“Die rand bly baie geneig tot wisselvalligheid en voortdurend kwesbaar vir buitensporige bewegings. Dit is baie selde teen billike waarde of sterker as billike waarde. Dit gebeur net sowat 15% van die tyd.”
Lings voorsien dat die geldeenheid onder druk sal bly en swakker as billike waarde sal wees.
“Vir die rand om tot sowat R16 teenoor die dollar te versterk en aansienlik oorwaardeer te word, sal Suid-Afrika moet wys hy het beleid omgedraai en het aantoonbare vaste belegging,” voeg Lings by.
“Waar ons vir buitelanders kan sê ‘Kyk wat gebeur’ – en dan kan hulle daarin koop.”
MoneyWeb