Polisie slaan toe op ‘n huis in Sandringham op vermoede van mensehandel

Minstens 15 mans wat vermoedelik Ethiopiese burgers is, is Donderdagaand in Sandringham, Johannesburg gevind tydens ‘n polisie klopjag om ‘n mensehandel-ring te breek.

In ‘n gesamentlike operasie het die Sandringham-polisie, Gautengse Valke, die Johannesburgse metropolitaanse polisiedepartement en ‘n private sekuriteitsmaatskappy gereageer op ‘n wenk van bure oor verdagte aktiwiteite by ‘n woning op Lusterweg in Sandringham.

“By hul aankoms het hulle 15 naakte individue gevind, wat vermoedelik Ethiopiese burgers is, wat in die huis gevange gehou is. Nog 11 slagoffers is hospitaal toe geneem vir mediese behandeling,” het Kol Philani Nkwalase, woordvoerder van die Valke, gesê.

Hy het gesê ‘n voorlopige ondersoek deur die gesamentlike span het aan die lig gebring dat van die slagoffers ‘n venster en diefwering gebreek en ontsnap het. Hy het gesê ‘n paar is in die gebied naby die misdaadtoneel opgespoor terwyl ander gevlug het.

“Verdere ondersoek het gelei tot die inhegtenisneming van drie verdagtes wat na bewering by mensehandel betrokke is. Die verdagtes is gevind met ‘n 9 mm P Tokarev-pistool, een magasyn en geen ammunisie nie,” het hy gesê.

Nkwalase het gesê die saak is na die Gautengse Valke se ondersoekeenheid vir ernstige georganiseerde misdaad verwys vir verdere ondersoek, en die 26 ongedokumenteerde individue word geprosesseer om hul status as beweerde slagoffers van mensehandel te bepaal.

Hy het gesê: “Die publiek word versoek om enige persoon wat sonder klere in die area gesien word, aan die owerhede te rapporteer, aangesien hulle met die voorval verbind kan word.”

Die verdagtes moet Maandag in die hof verskyn.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui