Motoriste in Pretoria sal alternatiewe roetes moet gebruik ná die sluiting van die Endstraat, Rabiestraat en John Vosterrylaan-kruising in Centurion.
Daar is Donderdag aangekondig dat die onlangse swaar reën daartoe gelei het dat die kruising gesluit is weens skade aan die padoppervlak wat na die Low Water Endstraatbrug in Centurion, suid van Pretoria, lei.
Lindela Mashigo, woordvoerder van Pretoria, het gesê ‘n visuele inspeksie wat deur die stad se ingenieurs gedoen is, het aan die lig gebring dat daar geen skade aan die brug is nie.
‘n Gedeelte van die pad wat na die brug lei, het verspoel en sodanige skade aan die padoppervlak veroorsaak dat sluiting nodig geag is. Daar sal eers aansienlike herstelwerk aan die grondvlak van die pad gedoen moet word voordat die padoppervlak herstel kan word.
“As alles volgens plan verloop, sal dit ongeveer 3 weke neem om te voltooi, alhoewel die begindatum vir herstelwerk nie vermeld kan word nie aangesien die padlae steeds hoogs versadig is,” het Mashigo gesê.
Die pad sal tot verdere kennisgewing vir padgebruikers gesluit word. “Dit is om verdere assesserings moontlik te maak en bykomende beskermingsmaatreëls in plek te stel. Die stad pleit by motoriste om nie die versperrings te verwyder nie.
“Die ongemagtigde gebruik van die pad sal waarskynlik verdere skade aan die padoppervlak veroorsaak en kan in die ergste geval hul voertuie beskadig, wat tot moontlike beserings aan die insittendes lei. Dit is nie in enigiemand se beste belang om gebruik te maak van ‘n pad wat gekompromitteer is nie,” het Mashigo gesê.
“Die stad vra opreg om verskoning vir die onverwagte sluiting van die genoemde pad. Ons wil padgebruikers bedank vir hul verwagte nakoming en geduld tydens die sluitingstydperk,” het Mashigo gesê.