Sewe verdagtes tussen die ouderdomme van 38 en 46 is in hegtenis geneem vir afpersing by ‘n myn in Carolina, Mpumalanga.
Provinsiale polisiewoordvoerder, brigadier Donald Mdhluli het Woensdagaand gesê die groep mans het by die myn aangekom en ‘n vervalste hofbevel voorgelê waarin geëis word dat mynaktiwiteite onmiddellik gestaak word.
“Dit het gelei tot die sluiting van produksie en dié mans het glo ook betaling van die myn geëis,” het Mdhluli gesê.
Die volgende dag, Donderdag, is die Carolina-polisie deur die myn ontbied om na te gaan en te help om die valse hofbevel te verifieer.
“By verdere ondersoek blyk dit dat die howe geen kennis of rekord van hierdie hofbevel het nie en daarom is ‘n saak van bedrog met ‘n bykomende klag van afpersing geopen,” het hy gesê.
Mdhluli het gesê toe ontdek is dat die hofbevel nie wettig was nie is die sewe verdagtes in hegtenis geneem.
Hulle is ook van bedrog en afpersing aangekla.
Hulle sal na verwagting Vrydag in die Carolina-landdroshof verskyn.