Tru-Cape se aandeelhouer Two-a-Day het onlangs die eerste landboubesigheid in Suid-Afrika geword wat as ‘n Top Werkgewer nasionaal gesertifiseer is deur die Top Employers Institute, gebaseer in Nederland.
Maatskappye moet aan die voorpunt van mensepraktyke wees om hierdie status te bereik.
“Ons het ongeveer 2 000 mense in diens wat elkeen ‘n integrale rol in ons besigheid speel. Ons word as ‘n groot werkgewer in ons klein gemeenskap beskou; daarom is dit belangrik dat ons werknemers gelukkig is by die werk en dat ons standaarde van wêreldgehalte is,” verduidelik Dimitri Jacobs, groep menslike hulpbronne-direkteur by Two-a-Day.
Two-a-Day in Grabouw is een van Afrika se voorste vrugteverbouings-, verpakkings- en bemarkingsmaatskappye. Die groep voer tans 7 miljoen kartonne appels en pere jaarliks uit, met nog 2 miljoen wat plaaslik verkoop word. Alle vrugte word deur Tru-Cape bemark, waarin hulle ‘n 50%-belang hou.
Die besluit is vroeër vanjaar geneem om Two-a-Day se MH-praktyke en -standaarde te meet om te bepaal of hul strategieë om werknemers te ontwikkel en op te lei op gelyke voet met internasionale vlakke is.
“Om geakkrediteer te word, moet ‘n mens ten minste 60% algeheel behaal op die 255 areas wat geëvalueer word. Ons het 66,76% behaal, wat uitstaande is,” sê Dimitri trots.
“Ons probeer altyd ons bes, maar die sertifisering het bevestig dat ons op die regte pad was. As ’n besigheid doen ons baie vir die mense in ons gemeenskap, en dit is goed om daarvoor erken te word.”
Terwyl tegnologie van uiterste belang is vir die maatskappy om wêreldwyd mededingend te bly, sê Attie van Zyl, die besturende direkteur van Two-a-Day, dat mense steeds die kern van hul besigheid is.
“Die akkreditasie beklemtoon dat landboubesighede in Suid-Afrika ewe goed met ander bedrywe kan meeding ten opsigte van werksgeleenthede en etiese standaarde. Ons het baie inisiatiewe in plek, waarvan ons fabriekswerkers se aandeelhouding in ons sonkrag- en ander projekte van groot belang is.”
Two-a-Day het besonder goed gevaat in die kategorieë van leierskap en strategie, eenheid en betrokkenheid. Hierdie domeine het onder meer waardes, etiek, diversiteit en billikheid, volhoubaarheid, werknemerswelstand, en belonings en erkenning oorweeg.
“Ons streef daarna om ‘n bevredigende omgewing by Two-a-Day te skep deur die toepaslike gereedskap en geleenthede vir opleiding en groei te verskaf. Ons bied beurse aan al ons werkers en stel salarisse teen die nasionale gemiddelde via Deloitte aan,” sê hy.
“By Two-a-Day fokus ons groot op werknemerswelstand en sport. Ons het ook ’n voltydse dokter, maatskaplike werker en sielkundige om werknemers in hul behoeftes by te staan.”
Deur Ratelberg Solar, ’n inisiatief wat 100% deur Two-a-Day se werkers besit word, spog die maatskappy met een van die land se grootste sonkraginstallasies op dakke. Werknemers is ook deel van die Tru-Cape Trust, waar hulle die geleentheid het om ‘n jaarlikse dividend te verdien.
Dimitri sê die sertifisering sal veral waardevol wees om nuwe talent te lok.
“Mense wat dit oorweeg om vir ons te werk, weet nou Two-a-Day is ‘n goeie werkplek. two-a-Day is ook in ‘n groeifase, en die sertifisering sal ons help om die regte mense te lok, veral in tegniese poste.”
Roelf Pienaar, die besturende direkteur van Tru-Cape, wat die vrugtebemarkingsafdeling van Two-a-Day is, het hulle gelukgewens met die bereiking van hul nuwe status.
“Dit is belangrik om aan ons 105 globale markte te demonstreer dat ons premium appels en pere eties geproduseer en onder billike arbeidsomstandighede verpak word in ‘n veilige, inklusiewe omgewing wat deurlopende leer waardeer. Ons is ook opgewonde oor Two-a-Day se potensiaal om as ’n voorkeurwerkgewer gesien te word, wat ons sal help om talentvolle individue te lok om saam uitstaande resultate te behaal.”
Dimitri het ‘n ambisieuse doelwit vir Two-a-Day gestel in 2025 om ‘n plek op die lys van die top 20 werkgewers in Suid-Afrika te verdien en by die geledere van maatskappye soos Vodacom, Unilever, Absa, Chep en Coca-Cola aan te sluit.
“In 2025 sal ons fokus wees om in alle kategorieë te verbeter om ’n telling van 70% te behaal. Dit sal toewyding verg, maar dit is vir ons belangrik.”
Om dit te bereik, beplan hulle om op leierskapontwikkeling te fokus en veranderinge in die digitale omgewing te implementeer om werknemers en aansoekers die beste ervaring moontlik te gee. Meer bemarkingspogings sal gemik wees op Two-a-Day se positiewe gemeenskap- en werkplekinisiatiewe.
“Ons hoop hierdie, en ander projekte, sal daartoe bydra dat Two-a-Day ‘n aangename en voorkeurwerkplek vir baie sal wees,” sluit Dimitri af.