Nuwe Uitvoerende hoof vir die Sitruskwekersvereniging

Dr. Boitshoko Ntshabele is Dinsdag as die nuwe uitvoerende hoof van die Sitruskwekersvereniging van Suider-Afrika (SKV) aangestel en aanvaar dié pos in Februarie.

Gerrit van der Merwe, voorsitter van die SKV, sê Ntshabele het omvattende ervaring in die akademiese, private en openbare sektor.

Justin Chadwick, uittredende uitvoerende hoof, het Ntshabele se aanstelling verwelkom. “Ek ken dr. Ntshabele al baie jare en ek is verheug dat hy dié pos aanvaar het. Sy vermoë om kalm te assesseer en te redeneer, asook sy diplomasie, sal ʼn groot bate vir die SKV wees, aangesien die bedryf daarna streef om voort te gaan op sy groeipad in die onsekere tye,” het Chadwick gesê.

Ntshabele gaan nou dié vereniging lei wat die sitrusbedryf en die rol wat dit in die Suid-Afrikaanse landboubedryf en ekonomie speel bevorder. Die SKV verteenwoordig meer as 1 560 sitrusprodusente in Suid-Afrika, Eswatini, Zimbabwe, Botswana en Namibië.

Ntshabele was die afgelope vyf jaar die direkteur van bioveiligheid by die departement van landbou, landelike ontwikkeling en grondhervorming. Ntshabele is ʼn gekwalifiseerde veearts en het verskeie leiersposisies by Onderstepoort Biologiese Produkte (OBP) beklee.

Hy was ook vir vier jaar die minister van landbou se raadgewer by die Suid-Afrikaanse ambassade in België.

Ntshabele sê hy is opgewonde om die toekoms van die plaaslike sitrusbedryf te help vorm en voortgesette fokus op volhoubaarheid is vir hom ʼn prioriteit.

“Ek het nog altyd geglo ware volhoubaarheid is van min betekenis as dit nie inklusiewe groei insluit nie. Op hierdie gebied is dit belangrik vir die sitrusbedryf om voort te bou op die uitsonderlike werk wat dit gedoen het. As alle struikelblokke uit die weg geruim word, kan die SKV selfs meer betekenisvolle ekonomiese geleenthede vir almal skep,” sê Ntshabele.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui