Burundi-burgers word van ontvoering en verkragting aangekla

Die saak teen drie Burundi-burgers wat in die Wynberg-landdroshof verskyn het, is weer uitgestel.

Die verdagtes het na bewering ‘n 14-jarige meisie in November 2024 ontvoer.

Die verdagtes, twee van 30 en nog een van 24, is aangekla van ontvoering, roof met verswarende omstandighede, verkragting en afpersing.

Die Wes-Kaapse woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), Eric Ntabazalila, het gesê die borgtogaansoek van die drie is uitgestel.

“Die borgtogaansoek van die drie Burundi-burgers wat aangekla word van ontvoering van ‘n minderjarige, roof met verswarende omstandighede, verkragting en afpersing is uitgestel vir ‘n Swahili-tolk om teenwoordig te wees om die beskuldigdes in hul borgtogaansoek by te staan,” het Ntabazalila gesê.

Hy het gesê die voorsittende beampte het die saak uitgestel aangesien die beskuldigdes nie behoorlik en bevredigend kon reageer op die vrae wat hy in Engels gestel het nie.

Daar word verder beweer die mans het die tiener van haar selfoon beroof en haar verkrag. Hulle het toe haar ma gekontak en R10 000 geëis. Die geld is egter nie aan hulle betaal nie.

Die saak is tot 24 Januarie 2025 uitgestel vir ‘n tolk om op rekord te kom.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui