Vlak vyf weerwaarskuwings is uitgereik vir Gauteng, Limpopo, Mpumalanga en Natal, met swaar reënbuie wat van Sondag tot in die week verwag word.
Verskeie huise en besighede is beskadig toe ‘n tregter wind soortgelyk aan ‘n tornado Sondag in Welkom, Vrystaat grootskaalse skade aangerig het.
Die Welkom-brandweerstasie het veral ernstige skade opgedoen, wat daartoe gelei het dat alle kommunikasielyne tans vanlyn is.
Owerhede is op die toneel om inwoners by te staan en die nagevolge van die storm te bestuur.
In die lig van die kommunikasie-uitdagings by die brandweerstasie, word inwoners aangeraai om 083 580 6160 of 057 916 1100 te skakel in geval van brandnoodgevalle.
Talle inwoners het sosiale media gebruik om foto’s en video opnames te deel van die skade wat deur die tornadoagtige winde aangerig is.
Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het Sondag ‘n weerwaarskuwing uitgereik vir ontwrigtende reën in verskeie munisipaliteite regoor die Vrystaat. Die wind is egter nog nie amptelik as ‘n tornado geklassifiseer nie.
Die waarskuwing het die potensiaal vir elektrisiteitstoevoeronderbrekings en gelokaliseerde oorstromings in gebiede, insluitend informele nedersettings en paaie, uitgelig.
Tot dusver is geen beserings aangemeld nie.
Nooddienste gaan voort om die volle omvang van die skade te bepaal en werk onverpoosd om normaliteit in die geaffekteerde gebiede te herstel.
Inwoners word versoek om versigtig te bly en enige gevare dadelik by die owerhede aan te meld.