’n Vragmotor wat kratte bier vervoer het enomgeval het, was ’n bron van groot vermaak op sosiale media nadat videomateriaal gewys het dat plunderaars deur bye gesteek word.
Die ongeluk het Saterdag in Darnall aan die Natalse noordkus gebeur en is by die KwaDukuza-polisie aangemeld.
Sifiso Zulu, woordvoerder van die KwaDukuza-munisipaliteit, het die voorval bevestig.
Zulu het gesê die plaaslike verkeersdepartement was op die toneel om verkeer te beheer. Selfs wetstoepassers was egter nie veilig teen die swerm bye nie.
Die voorval het blykbaar net die enkele biervragmotor betrek wat omgeslaan het. Woord van die ongeluk het versprei en kort voor lank het die toneel gegons – nie net met nuuskieriges nie, maar ook met opportunistiese “vrywilligers”, wat buitengewoon gretig was om te help om “die pad skoon te maak”.
Beeldmateriaal wys hoe die omgeslaande vragmotor op sy sy lê, met plastiekkeëls wat gebruik word om die area te beveilig.
Die beeldmateriaal het honderde opmerkings op sosiale media getrek, met sommige mense wat dink of die bye gekom het om die bier te beskerm en ander wat voorstel dat transitovoertuie byekorwe byderhand moet hê om hulle teen rowers te beskerm.