’n 40-jarige buitelander sal na verwagting in die hof verskyn nadat hy na bewering op Oujaarsaand met ’n luukse BMW oor die grens na Zimbabwe probeer ry het.
Die polisie het gesê beamptes was aan diens by die Beitbruggrenspos toe hulle ‘n man gewaar wat ‘n swart BMW G70, 7-reeks ter waarde van meer as R2 miljoen bestuur. Die man wou Zimbabwe binnery.
“Die man het ‘n Suid-Afrikaanse paspoort gehad. Voorlopige ondersoek toon dat die voertuig deur een van die banke in Suid-Afrika gesoek word. Die bestuurder het beweer dat die regte eienaar op 1 Januarie na Suid-Afrika sal vlieg,” sê polisiewoordvoerder, luitenant-kolonel Stephen Thakeng.
Hy het gesê die man is gearresteer en aangekla vir die besit van ‘n vermoedelik gesteelde voertuig en die verskaffing van bedrieglike dokumente aan die SAPD. Daar is beslag gelê op die voertuig. Hy sal op 3 Januarie in die Musina-landdroshof verskyn.
Limpopo polisiekommissaris, luitenant-generaal Thembi Hadebe het die lede toegejuig wat waaksaam was om te verseker dat die verdagte voor die hof gebring word om die volle mag van die gereg in die gesig te staar.
Sy het bygevoeg dat dit die gevolg is van meer stewels op die grond gedurende die feesseisoen.
Intussen het Adjunkminister van Polisie, Polly Boshielo, LUR vir gemeenskapsveiligheid en vervoer, Violet Mathye, Vhembe Distrik Uitvoerende Burgemeester, raadslid Freda Nkondo en kommissaris Hadebe, die jaarlikse Veiliger Feesseisoen Operasionele-inspeksietoer by Musina en Beitbridge Port of Entry gelei.
Die besoek was deel van pogings om oorgrensmisdade te beveg.