NW-man gearresteer vir diefstal van ambulans wat pasiënt vervoer

Die polisie in Ventersdorp het die verdagte Vrydag net voor middernag by Tshing, Noordwes in hegtenis geneem vir diefstal van ‘n ambulans.

Die 24-jarige man sal na verwagting Maandag in die Ventersdorp-landdroshof verskyn op aanklag van motordiefstal.

Die verdagte het na bewering op 26 Desember 2024b v die ambulans voor die plaaslike hospitaal gesteel.

Noordwes Polisiewoordvoerder, kol. Adéle Myburgh sê Nood- en Mediese Reddingsdienste (EMRS) personeel het ‘n pasiënt ontvang wat in die ambulans geplaas is om na ‘n naburige hospitaal vervoer te word.

Terwyl EMRS egter besig was met die oorhandiging van die pasiënt, het die verdagte met die ambulans weggery met die pasiënt steeds agter in die ambulans.

“Die polisie is gekontak, wat onmiddellik opgetree het en daarin geslaag het om die ambulans kort ná die voorval in Tshing, Uitbreiding 5 op te spoor en te stop,” het Myburgh gesê.

Die pasiënt is nie tydens hierdie voorval beseer nie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui