Drie verdagtes is gearresteer in verband met die beweerde ontvoering van ‘n 16-jarige meisie uit ‘n koshuis by JCC Camp in Da Gamaskop, Mosselbaai, op Oukersaand.
’n Gesamentlike operasie tussen Garden Route en Overberg Distrik polisielede in samewerking met Wes-Kaapse Provinsiale Verkeer en verskeie rolspelers in die Suid-Kaapse veiligheidstrukture het verseker dat drie verdagtes vasgetrek en die 16-jarige slagoffer herenig is met haar familie.
Op Dinsdag, 24 Desember 2024, omstreeks 23:00, het die polisie opgetree op grond van inligting oor ‘n 16-jarige meisie wat na bewering uit ‘n koshuis by JCC-kamp, Mosselbaai, ontvoer is.
‘n Wit Isuzu LDV, op pad na Kaapstad, is op verskeie platforms opgemerk.
Polisiewoordvoerder, sers Christopher Spies, het gesê die Overberg Flying Squad, Taakspan en Caledon-polisie het die voertuig met vier insittendes op Woensdag, 25 Desember 2024 langs die N2 by Caledon opgespoor.
“Hulle het drie mans gearresteer en die veiligheid van die slagoffer verseker wat later met haar familie herenig is.”
“Mosselbaai se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe ondersoek ‘n saak van ontvoering,” het Spies gesê.
Die verdagtes van 30, 38 en 48 jaar bly in polisie-aanhouding.
Die verdagtes sal op Vrydag, 27 Desember 2024 in die Mosselbaai-landdroshof verskyn op aanklag van ontvoering.
Die Wes-Kaapse polisiebestuur het die samewerking van alle betrokkenes geloof om die slagoffer se veiligheid en die verdagtes se arrestasie te verseker.