’n 21-jarige ma en 26-jarige pa het Dinsdag, 24 Desember 2024 in die Klerksdorp-landdroshof verskyn vir die beweerde verwaarlosing van hul 14 maande oue babadogtertjie in Tigane, naby Hartbeesfontein. Borgtog van R300.00 elk is aan hulle toegestaan en die saak is tot Woensdag, 5 Februarie 2025 uitgestel.
Die hofverskyning spruit uit ‘n voorval waar die polisie in die vroeë oggendure van Maandagoggend, 23 Desember 2024, in Tigane na ‘n huis ontbied is. Die polisie is ‘n verlate babadogtertjie gewys wat huilend voor ‘n erf gevind is. Aanvanklike polisie-ondersoeke het aangedui dat die ouers na bewering hul baba by die huis gelos het en na ‘n nabygeleë taverne is. Later het die ma die pa teruggestuur huis toe om die kind te gaan haal, maar hy het die baba in die straat gelos nadat hy glo deur onbekende persone agternagesit is. Die ouers is na die polisiestasie toe hulle nie hul kind kon kry nie en is dadelik in hegtenis geneem.
Die departement van maatskaplike ontwikkeling is gekontak en die baba is in die sorg van ‘n familielid geplaas.
Die waarnemende provinsiale polisiekommissaris, generaal-majoor Patrick Asaneng, het die voorval veroordeel en aangedui dat die kind verwaarloos is deur iemand wat veronderstel was om haar te beskerm. Hy het alle ouers versoek om altyd te weet waar hul kinders is, veral gedurende die Feestyd, en gesê die polisie sal voortgaan om hard te werk om suksesvolle vervolging te verseker.