Suid-Afrika, wat reeds gebuk gaan onder geweldige misdaad en nie in staat is om dit ten volle onder bedwang te bring nie, moet nou dringende stappe in werking stel om sy grens met Mosambiek te vrywaar van kriminele elemente.
Die burgerlike onrus wat in Mosambiek eskaleer ná hul betwiste verkiesings vanjaar kan groot gevolge vir Suid-Afrika hê.
Die nie-regeringsorganisasie Plataforma Decide het vandeesweek gesê sowat 125 mense is dood in drie dae van gewelddadige botsings regoor Mosambiek te midde van betogings oor die presidensiële verkiesingsuitslae. Dit neem die totale sterftes op 252 nadat geweld in Oktober uitgebreek het.
Dit kan ook nie uitgesluit word dat sommige gevangenes wat hierdie week tydens ‘n massiewe tronkuitbraak ontsnap het, dalk sal probeer om die grens na Suid-Afrika oor te steek nie.
Prof Anni Hesselink, ‘n kriminoloog aan die Universiteit van Limpopo, het gesê: “Om na Suid-Afrika te vlug en saam te smelt met kriminele netwerke en die kriminele onderwêreld kan nie uitgesluit word nie, aangesien dit hul vooruitsigte op vryheid sal verbeter en op sy beurt meer druk sal plaas op SA se problematiese hoë misdaadsyfer.”
Willem Els, misdaadontleder van die Instituut vir Sekerheidstudies, het ’n beroep op Suid-Afrika gedoen om veiligheid aan sy grense te versterk.
Hy het gesê: “Sodra jy nie daarin slaag om die grense te beheer nie, sal die georganiseerde kriminele netwerke van daardie voordeel gebruik maak. Daarom moet Suid-Afrika en die SAOG-lande verseker dat hulle help om vrede in Mosambiek te bring, wat Suid-Afrika in staat sal stel om sy grense te bestuur.”
Die regering kan dit nie bekostig om hieroor voete te sleep nie. Dit moet vinnig optree.
Daar is reeds in 2021 gesê dat ons weermag te verswak is om enigsins ons grens met Mosambiek te verdedig…die vraag is nou, hoe gaan die regering dit nou regkry?