’n 36-jarige man het by Vishoekstrand op die Kaapse Skiereiland in die Wes-Kaap verdrink.
Craig Lambinon, woordvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI), sê spanne is geaktiveer ná berigte dat ‘n man onder water verdwyn het nadat hy van rotse afgespring het.
Hy sê lewensredders het die lyk gevind en na die wal gebring.
“Met hul aankoms op die toneel het CMR-paramedici, wetstoepassers en brandweer- en reddingsdienste die lewensredders bygestaan met uitgebreide KPR-pogings, maar nadat alle pogings om die man te herstel uitgeput was, is hy ongelukkig dood verklaar.
Die liggaam van die man is in die sorg van die polisie en die regering se Gesondheids Forensiese Patologiedienste geneem. Die polisie het ’n geregtelike doodsondersoekdossier geopen. Meegevoel word aan familie en vriende van die oorledene betuig.”
In nog ‘n voorval het die polisie ‘n geregtelike doodsondersoek geopen nadat die liggaam van ‘n volwasse man gister in die Hartbeespoortdam in Noordwes gevind is.
Die man is gister as vermis aangemeld terwyl hy visgevang het.
Die NSRI het saam met die polisieduikers ‘n uitgebreide soektog van stapel gestuur en die man se liggaam uit die dam gehaal.
Intussen het Andrew Ingram, bestuurder van verdrinkingvoorkoming van die NSRI, strandgangers gewaarsku teen swem terwyl hulle onder die invloed van alkohol is.
Ingram sê hulle het tragiese noodlottige verdrinkingsvoorvalle gedurende die feestyd regoor die land gesien waar strandgangers alkohol drink en gaan swem, wat in sommige gevalle tot lewensverlies gelei het.