Die Lebombo-grenspos in Komatipoort, Mpumalanga, bly Donderdag gesluit vir vragmotors as gevolg van die toename van betogings in Mosambiek.
Vragmotors word deur betogers aan die Mosambiekse kant geteiken: “Ongelukkig moes ons die verwerking van vrag staak weens die onveiligheidsuitdagings op die [N4]-korridor, veral in die Maputo-hawe.”
Volgens die Padvragvereniging (RFA) het die aanvanklike sluitings verlede maand verliese van ongeveer R5 miljard tot gevolg gehad weens vertraagde vragbeweging deur die Maputo-hawe.
Die Suid-Afrikaanse lugdiens Airlink het vandeesweek vlugte na Mosambiek gekanselleer weens die betogings in die land.
Die lugdiens het Dinsdag die kansellasie van vroeë vlugte van Maputo na Kaapstad en Johannesburg aangekondig.
“Airlink sal voortgaan om die situasie in Mosambiek en veral Maputo op ‘n daaglikse basis te monitor en die nodige skeduleveranderings of aanpassings aan te bring,” het die lugredery in ‘n verklaring gesê.
Dienste in ander Mosambiekse stede, insluitend Beira, Nampula, Pemba, Tete en Vilanculos, bly onaangeraak.
“Airlink sal normale dienste na en van Maputo hervat sodra die situasie in en om die lughawe dit toelaat.”