Die organisasie Sakeliga het ʼn ondersoek van stapel gestuur ná die Mededingingskommissie begin het om uit eie beweging swart ekonomiese bemagtigingsverpligtinge (BEE) vir varsproduktemarkagente, boere en aankopers te skep. Sakeliga het onder meer uitgebreide aansoeke ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (Paia) aan die Mededingingskommissie, die minister van landbou en die Raad op Landbouprodukagente (APAC) gestuur.
Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga, sê ingevolge konsepbevele van die varsprodukte-markondersoek (FPMI) wil die kommissie markagente verplig om op eie koste mededingers in swart besit op te rig en op te lei.
Die konsepbevele bepaal dat hierdie ooreenkomste ses jaar lank aangegaan moet word en binne 18 maande in werking gestel moet word. Markagente moet boonop jaarliks onder eed daaroor verslag doen én gereedstaan om enige verdere inligting wat die kommissie versoek, te oorhandig.
Die Mededingingskommissie het die varsprodukte-markondersoek in Maart verlede jaar van stapel gestuur. Die kommissie was veronderstel om nie later nie as 1 Oktober vanjaar sy verslag te lewer.
“Ná ʼn verlenging daarvoor deur Parks Tau, minister van handel, nywerheid en mededinging, is dit nou veronderstel om teen 15 Januarie klaar te wees. Hoewel die kommissie van ondersoek dus graag baie tyd vir homself gun, ongeag die koste daarvan, vereis dit die teenoorgestelde van markagente.
“Dokumente in ons besit toon dat markagente in November slegs vier werksdae gegun is om op die konsepbevele te reageer.”
Volgens Le Roux bevat die kommissie se konsepvoorstelle ook etlike aanbevelings aan APAC, hoewel die raad oor geen wetlike magte oor APAC beskik nie.
Sakeliga sê dit sluit die volgende in:
- Om met die AgriBEE-raad en die departement van landbou saam te werk om te verseker dat swart markagente sekere proporsies van die mark vir aartappels, uie, tamaties, appels, piesangs en ander veelverhandelde gewasse verhandel.
- Om ʼn ontwikkelingsprogram te skep vir swart markagentskappe waarin voorkeur gegee word aan maatskappye wat slegs in swart besit is en dus geen samewerking op aandeelhoudingsvlak met gemengde maatskappye of individuele wit mense het nie.
- Om die bestaande markagentskappe se verpligte samewerkingsprojekte met swart markagentskappe goed of af te keur, te moniteer en te evalueer.
- Om vir ʼn tydperk van ses jaar voortdurend aan die kommissie te rapporteer.
Le Roux meen die kommissie se voorskrifte aan markagente en APAC kom daarop neer dat dit die uitvoering van politieke beleid die verantwoordelikheid van private ondernemings wil maak.
Markte het in staat se hande verval
“Dit is ʼn voorbeeld van die derde golf van BEE, ingevolge waarvan politiekgesinde amptenare probeer om met onregmatige regulering deelname aan BEE verpligtend vir deelname aan die ekonomie te maak. Die Mededingingskommissie se ondersoek en die konsepbevele getuig van ʼn agenda teen markagente, veral aangesien die kommissie soos die graf swyg oor die verval van varsproduktemarkte in staatshande,” sê Le Roux.
Hy benadruk dat verbruikers en die hele waardeketting reeds jare onder die hopelose bestuur en instandhouding van varsproduktemarkte in Johannesburg en Pretoria ly, asook elders waar munisipaliteite die markte beheer en staatsagentskappe veronderstel is om gehaltebeheerdienste te lewer, maar misluk.
“Ironies genoeg, is die verval van die varsproduktemarkte in staatsbeheer een van die groot redes waar dit in praktyk moeilik is om ʼn varsproduktemarkagent te word, ongeag ras. Hoewel dit enigeen vry staan om so ʼn onderneming te begin, is markagente wat skaal wil bereik deesdae genoodsaak om hul eie koelkamers, vurkhysers, kragopwekkers en ander kapitaalintensiewe geriewe en toerusting op hul vloerspasie op die markte te plaas.”
Die Johannesburgse varsproduktemark het vroeër vanjaar aan Sakeliga erken dat ʼn derde van sy koelkamers stukkend is.
“Behoorlik funksionerende markte sou die magdom gedeelde infrastruktuuruitgawes oorhoofs kon dra, maar weens staatsverval is dit nou nodig vir markagente om hul eie infrastruktuur te vestig. Om nou boonop van markagente te verwag om van die wins wat hulle nieteenstaande staatsverval maak te gebruik om mislukte politieke projekte te finansier, is te dik vir ʼn daalder.”
Ander regulasies ook ingrypend
Ander konsepaanbevelings aan APAC, wat nie direk met ras te doen het nie, is ook ingrypend. Die voorstelle, wat markagente, boere en aankopers se innovasie en samewerking erg sal belemmer, behels onder meer die daarstelling van maksimum kommissiegelde aan boere en agente oor wat hulle mag kontrakteer en ʼn verbod op markagente om koopkaarte, kredietverlening aan produsente of kopers en nauurse verhandeling te gebruik of aan te bied.
Hoewel die dokumente in Sakeliga se besit wys dat boere en aankopers nog nie direkte verpligtinge deur die kommissie opgelê word nie, word hulle wel deeglik geraak.
“Die voorstelle dat APAC sorg dat een of ander minimum vlak van markaandeel in gewasverhandeling vir swart markagente verseker word, ondermyn boere se diskresie om soveel produkte as wat hulle wil na markagente van hul keuse te stuur en aankopers se diskresie oor waar hulle koop,” sê Le Roux.
Sakeliga se ondersoek na die kommissie se optrede en die bestaande skakeling met die AgriBEE-raad en APAC, behoort volgende jaar verdere lig te werp op die kommissie se bedrywighede en planne met BEE, asook “ander inmenging by die varsproduktewaardeketting”.
