Plaasaanvaller geskiet na hy 71 jarige boer met skêr in sy huis aanval

Volgens Sers. Peter Kareli, polisiewoordvoerder, het ’n worsteling Sondag 15 Desember tussen ’n 71-jarige boer op sy plaas in die Theunissen-distrik en ’n vermeende aanvaller ontstaan. ’n Skoot het afgegaan en die vermeende rower is noodlottig getref.

Volgens Kareli is die polisie omstreeks 08:30 na die plaas ontbied. Die boer het glo geluide gehoor toe hy tuiskom nadat hy sy vee gaan voer het.

Hy het ondersoek gaan instel en ’n onbekende man met ’n vuurwapen aangetref. ’n Worsteling het ontstaan en die boer is na bewering met ’n skêr aangeval en in die arm gesteek. ’n Skoot het afgegaan toe die boer glo probeer het om die vuurwapen by hom af te neem. Die aanvaller het ’n noodlottige wond in die bors opgedoen.

Die polisie het die onbekende aanvaller met hul aankoms op die toneel dood verklaar

Volgens Kareli het die polisie het op ’n ongelisensieerde vuurwapen en ’n skêr beslag gelê. Sake van moord en huisroof word tans ondersoek.

Gernie Botha, uitvoerende hoof van Vrystaat Landbou, het by navraag verklaar dat die organisasie veroordeel enige aanvalle op boere, hul gesinne en werkers.

Die organisasie bedank die polisie vir hul vinnige optrede en doen weer eens ’n dringende beroep op boere om gedurende die feestyd ekstra paraat te wees.

Botha het gesê dat enige verdagte mense of voertuie by die plaaslike veiligheidsverteenwoordiger of by die polisie se landelike veiligheidskoördineerder aangemeld moet word, en boere moet hulle vergewis van die veiligheidsplan in hul gebiede.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui