Twee mans, onderskeidelik 38 en 42 jaar oud, is in hegtenis geneem vir die beweerde smokkel van onwettige goedere vanuit Botswana na Suid-Afrika by die Groblersburg grenspos.
Luitenant-kolonel Stephen Thakeng, provinsiale polisiewoordvoerder in Limpopo, het gesê die twee buitelandse burgers is Saterdag in hegtenis geneem.
Volgens die verslae het ‘n doeanebeampte aan diens by die invoer-aankomshek ‘n vragmotor met ‘n sleepwa met die twee insittendes, onderskep.
Die vragmotor, met Gauteng nommerplate, is afgekeer vir ‘n verkeerde verwyderingskode. Die bestuurder het ‘n bedrag van R20 000 as omkoopgeld aangebied sodat die voertuig deurgelaat kan word. Die amptenaar was egter nie daarvoor te vinde nie en die SAPD is dadelik deur die doeanebeampte ontbied.
Thakeng het gesê die vragmotor is daarna onder polisiebewaking na die oprit-inspeksiegebied begelei, waar die seile oopgemaak is net om sigarette, gesigrome en tablette te vind wat tussen die verklaarde sakke edelgesteentes versteek is.
Tydens die arrestasies het die polisie beslag gelê op goedere waaronder 2 250 kartonne sigarette ter waarde van R606 510; 70 kartondose met gesigrome ter waarde van R424 800 en 32 kartondose met tablette ter waarde van R695 000.
Daar is ook beslag gelê op die Internasionale vragmotor en sleepwa, ter waarde van R1,1 miljoen.
Die twee wat in hegtenis geneem is, sal Woensdag in die hof verskyn op aanklag van smokkel van onwettige goedere.
Intussen het provinsiale kommissaris van polisie in Limpopo, luitenant-generaal Thembi Hadebe die toegewyde doeanebeampte en SAPD-lede gekomplimenteer vir hul pogings om onwettige handel te bekamp terwyl hulle ook die gemeenskap se veiligheid en welstand beskerm.