Suid-Afrika, Lesotho onmin stel waterprojek in gevaar

Lesotho het beswaar gemaak teen die heraanstelling van Tente Tente as die hoof uitvoerende beampte van die Lesotho Hoogland-ontwikkelingsowerheid, wat die twee lande in 1986 gestig het.

’n Diplomatieke rusie kan die bou van ’n multi-miljard dollar-projek in Lesotho verder vertraag wat nodig is om ’n waterkrisis in Suid-Afrika af te weer, het Business Day berig, met verwysing na hofstukke en ander dokumente.

Lesotho het beswaar gemaak teen die heraanstelling van Tente Tente as die hoof uitvoerende beampte van die Lesotho Hoogland-ontwikkelingsowerheid, wat die twee lande in 1986 gestig het en verantwoordelik is vir die voorsiening van water aan Suid-Afrika se kommersiële middelpunt van Gauteng, het die Johannesburgse koerant gesê.

Lesotho, ’n land van sowat 3 miljoen mense wat deur Suid-Afrika omring word, is ’n sleutelverskaffer van water aan sy buurland aangesien klimaatsverandering droogte in die vasteland se mees geïndustrialiseerde ekonomie vererger.

Die bergkoninkryk blameer Tente vir vertragings en die groeiende koste van ‘n R53 miljard ($3 miljard) plan om ‘n nuwe dam en ‘n tonnel te bou om water na Suid-Afrika toe te lei, het die koerant berig. Suid-Afrika het aangevoer dat Tente nie net die skuld is vir die vertraging en die koste-oorskryding nie, met verwysing na omgewings- en politieke dinamika, en ander faktore, volgens die verslag.

Rapelang Motsieloa, prokureur-generaal van Lesotho en Mohlomi Moleko, minister van natuurlike hulpbronne, het ‘n hofaansoek ingedien om die aanstelling om te keer, terwyl Suid-Afrika se regering besig is om ‘n manier te vind om die dispuut te besleg, het die koerant berig.

Peter Baur, medeprofessor in ekonomie van die Universiteit van Johannesburg, het gewaarsku dat die ineenstorting van die Lesotho Hoogland-waterprojek ekonomiese gevolge vir SA kan hê.

“Sonder die Lesotho Hoogland-waterprojek sou baie meer druk op plaaslike waterverskaffers geplaas word.

“Dit kan lei tot ongelooflike beperkings op die landbou-, nywerheids- en residensiële sektore van die ekonomie,” het Baur gesê.

Hy het gesê ‘n groot hoeveelheid van die varswatertoevoer is tans verlore “weens bestaande infrastruktuuruitdagings”.

Die Lesotho Hoogland-waterprojek verskaf sowat 60% van Gauteng se water.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui