’n Veroordeelde verkragter is deur die Thohoyandou-hooggeregshof in Limpopo tot twee lewenslange vonnisse en ’n bykomende 62 jaar tronkstraf gevonnis.
Humbulani Hlengani is skuldig bevind aan verskeie aanklagte, insluitend moord, verkragting, roof met verswarende omstandighede, die besit van ‘n vuurwapen en aanranding met die doel om ernstig te beseer.
Die misdade is tussen 2013 en 2018 gepleeg.
Mashudu Malabi-Dzhangi, woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag (NVG), sê Hlengani is deur DNS met die misdrywe verbind.
“Die hooggeregshof in Limpopo wat in Waterval sit, het Humbulani Audrin Oliver Hlengani van Musina, Matswale Fase 3, tot twee lewenslange termyne en ‘n bykomende 62 jaar gevangenisstraf gevonnis vir veelvuldige aanklagte insluitend moord en twee aanklagte van verkragting. Die beskuldigde het as sy slagoffers geteiken, Zimbabwiese burgers wat kamers in die dorp gehuur het.”
