Opvolg: Drie verdagtes in hof, een dood ná plaasmoord op Rouxville

Die drie verdagtes wat glo ’n Suid-Vrystaatse boer vermoor het, verskyn vandag voor die Rouxville-landdroshof.

Hul vermeende medepligtige is doodgeskiet terwyl die polisie die vier in hegtenis wou neem.

Die hof sal bepaal op watter aanklagte die drie tereg sal staan, sê Loraine Earle, polisiewoordvoerder, waaronder moord en moontlik ook ontvoering.

Jaco van Wyk (52) is Saterdag (7/12) in die kop geskiet. Sy vrou Leonie (45) is ontvoer en op ’n angsvolle reis deur verskeie dorpe geneem, terwyl die verdagtes haar na bewerig gedwing het om geld by talle OTM’s te onttrek.

Sy het vroeg Sondagoggend daarin geslaag om ’n noodboodskap vanaf haar selfoon te stuur.

“Die gesteelde motor is nagespoor op ’n plaas in die Tierpoort-omgewing,” sê Earle. “Bloemfontein se blitspatrollie het die voertuig opgespoor met Leonie steeds daarin saam met die vier verdagtes.

“Sy is gered en het mediese hulp ontvang om te bepaal of verdere aanklagte gevoeg moet word.”

Skakel in by plaaslike veiligheidstrukture

Tydens die optrede is ’n verdagte gewond en na die hospitaal geneem, waar hy oorlede is. Die ander man en twee vroue is ingebring vir ondervraging. Die polisie het vuurwapens binne-in die voertuig gekry.

Vrystaat Landbou doen ’n beroep op boere, hul gesinne, werkers en ander plaasbewoners om by ’n plaaslike veiligheidstruktuur in te skakel.

Jakkals le Roux, voorsitter van die organisasie se landelikeveiligheidskomitee, beklemtoon die dringende behoefte aan verbeterde veiligheidsmaatreëls. “Die Vrystaat ervaar ’n hoë voorkoms van plaasaanvalle, wat veral plaasbewoners raak,” sê hy.

Friedl von Maltitz, VL-visepresident, betuig sy dank teenoor die polisie vir hul vinnige optrede, wat gelei het tot die inhegtenisnemings en die veiligheid van Van Wyk se ontvoerde vrou.

VL beklemtoon die belangrikheid van betrokkenheid by plaaslike veiligheidsnetwerke en -groepe, veral dié tyd van die jaar wanneer meer misdaad op plase voorkom.

‘Hierdie aanvalle het ’n groot uitwerking op landelike gemeenskappe’

Die jongste Vrystaatse plaasmoord beklemtoon die toename in plaasaanvalle in die Kerstyd, sê Jan van Niekerk, provinsiale VF Plus-leier. Hierdie aanvalle het ’n groot uitwerking op landelike gemeenskappe en gesinne.

Die VF Plus waarsku boere en gemeenskappe om nou ekstra waaksaam en veilig te wees, aangesien aanvalle en metodes kan verander. Wettige voorsorg- en veiligheidsmaatreëls moet versterk word om gesinne te beskerm.

Die egpaar se seun het op 25 November 2024 uit Amerika teruggekeer na hy daar geboer het. Hy het op 7 Desember 2024 aan die 2024 Nasionale “Bladesport” kampioenskap in Benoni deelgeneem.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui