Boere platsak, gebroke ná ‘likwidasie-mafia’ toeslaan

7 Desember 2024

Tientalle boere wend hulle tot die hof in ʼn poging om van die geld en grond te probeer terugkry wat hulle verloor het,

Geskryf deur Jana Smit en Elaine Krige

Tientalle boere oor die hele land is tans in ʼn regstryd teen likwidateurs, onder meer van die Landbank, gewikkel in ʼn poging om van die grond en geld terug te kry wat hulle tydens beweerde onregmatighede met die likwidasie -en sekwestrasieprosesse verloor het. Van hierdie boere het miljoene rande verloor en eiendom wat in familie se besit is, is sommer ook opgeraap om skuld te delg. Maroela Media het vroeër berig ʼn groep likwidateurs teiken glo maatskappye en beplan likwidasies tot nadeel van die krediteure en mense wat bankrot verklaar word. Sedertdien het nog mense, wat ook stelle met likwidateurs afgetrap het, na vore gekom.

André Theron, ʼn Vrystaatse boer wat eens die grootste produsent was van tef, ʼn gewilde gewas wat hoëgehalte-hooi lewer, is een so ʼn slagoffer van die sogenaamde likwidasiemafia. Theron (48) beweer hy is leeg gesteel en uitmekaar geskeur nadat hy aangeraai is die beste opsie sou wees om te sekwestreer, maar die plaas wat hy gehuur het, later deur likwidateurs “onder hom uitverkoop” is.“ Prokureurs en likwidateurs werk saam om jou te likwideer, want hulle maak geld uit jou,” sê Theron, wat deesdae in die Goudveld buite Welkom woon.Theron het in 2015 op huurgrond in Bultfontein met soja, sonneblom en mielies geboer en later tef begin plant sodat hulle in die droogte ʼn inkomste kon hê. In 2018 het hy ʼn huurkontrak van nege jaar en 11 maande “op ʼn pragplaas” gesluit. Teen daardie tyd het sy tef-boerdery baie goed gevaar en het hy slegs daarmee geboer. Nadat hy ʼn bloutjie met ʼn sakevennoot geloop het, het hy egter besluit om homself vrywillig te laat likwideer. Hy is toe aangeraai om sy onderneming ook onder likwidasie te plaas, iets wat hy meen nie in sy beste belang was nie.

Theron sê die likwidasieproses self het jare gesloer, terwyl die onkoste daaraan verbonde bly klim het en rente daarop gehef is. Hy beweer ook dat die plaas wat hy in dié stadium op lang termyn gehuur het, tydens ʼn veiling onder hom uitverkoop is en dat hy die R900 000 wat hy as deposito betaal het, boonop ook verloor het. Die deposito is ná ʼn twee jaar lange hofstryd uiteindelik deur likwidateurs aan hom terugbetaal.

“Die likwidasieproses het so lank gesloer dat my regsonkoste tot R3,5 miljoen opgeloop het. Dit het daartoe gelei dat ek die meeste van my bates moes verkoop om my maandelikse regskoste te kan betaal.”

Hy is tans in ʼn verdere regstryd gewikkel om die likwidasieproses ongeldig te laat verklaar.

Die afgelope jare se drama het tot ʼn geweldige finansiële knou vir Theron en sy vrou gelei.

“Twee jaar lank het ek hemelhoë regsonkoste gehad in ʼn poging om my deposito en die plaas regmatig terug te kry.

“Dít is hoekom ek sê likwidateurs en prokureurs werk saam om jou te vernietig. Die likwidateurs rek die proses so lank uit dat jy later nie meer geld het om teen hulle terug te baklei nie.”

Ná alles betaal hy steeds maandeliks ʼn halfmiljoen rand aan skuld af. Wanneer die geld betaal is, het hy niks oor om vir sy gesin te sorg nie.

“Hulle dink hulle is God. Alles wat hulle doen, is om hulself te verryk.”

Hanro Wallis, wat ʼn saai- en skaapplaas in Noordwes gehad het, voer die afgelope ses jaar ʼn stryd om grond van 272 ha wat op veiling onder hom uitverkoop is, terug te kry. Hy voer in hofstukke aan die plase is in Augustus 2019 deur kurators op ʼn veiling verkoop.

ʼn Hooggeregshofsaak teen die kurators en ʼn tweede party is op 18 Oktober vanjaar weer uitgestel. “Hoe langer hulle die saak uitrek, hoe meer geld kan hulle maak met oeste,” het hy die afgelope week aan Maroela Media gesê.

Hy is in Desember 2018 in sy persoonlike hoedanigheid finaal gesekwestreer.

“Op 14 Desember 2018 stop kurators saam met afslaers op die plaas en verwyder al die voertuie, waarvan die helfte nie eens myne was nie. In April 2019 adverteer hulle toe sommer my ouma se drie plase ook. Sy is daardie selfde aand oorlede.”

Ses jaar later voer hulle steeds ʼn stryd om dié grond terug te kry.

Nagenoeg 30 boere in regstryd teen Landbank gewikkel

Carel van der Merwe, ʼn boer van Vanwyksvlei in die Noord-Kaap, is nou al jare lank in ʼn regstryd met die Landbank en hul likwidateurs gewikkel. Hy skuld die Landbank nagenoeg R9 miljoen, terwyl dié bank sy boerderygroep, die Merwede Groep, vir R70 miljoen gelikwideer het.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui