“Rommel en plastiek is agtergelaat wat intussen in versteekte hoeke van die dam geblaas is. Stompe is in die water geplant en gelyk met die water se oppervlak gesny, ‘n potensiële gevaar vir kanovaarders,” het ‘n anonieme persoon gesê.
Daar is kommer oor die toestand waarin die Tuinroetedamgebied agtergelaat is ná die verfilming van ‘n Suid-Afrikaanse televisiereeks daar.
George-munisipaliteit het huurgebruik van die damgebied aan die produksiemaatskappy Red Pepper Pictures toegestaan vir die verfilming.
Anton Smal, assistentvervaardiger van Red Pepper Pictures, het bevestig dat hulle ‘n omgewingspraktisyn in diens geneem het voordat die projek begin het. “Hulle sal voortgaan met die uitrol van hul prosesse in samewerking met ons skoonmaak- en opruimingsprosesse wat almal nog aan die gang is. Die skoonmaakfase van die projek is 100% plaaslik beman met meer as 40 mense wat gekontrakteer is om te help met die proses.”
Garden Route Dam Action Group (Gardag) voorsitter, Desireé du Preez, het ook die koerant gekontak en gesê dit is 21 dae sedert die bemanning vertrek het, maar puin en rommel is steeds ‘n seer oog vir besoekers.
Volgens kommunikasiehoof Chantèl Edwards het die produksiespan voor en tydens verfilming aan die streng voorwaardes van die verfilmingspermit voldoen, insluitend die aanstelling van ‘n professionele omgewingspraktisyn. Opruiming is aan die gang en baie van die rommel is reeds verwyder. “Die produksiespan bly daartoe verbind om enige uitstaande puin aan te spreek en die area na sy oorspronklike toestand te herstel.”
Die vraag is: Wie is die professionele omgewingspraktisyn as die gebied steeds nie tot sy volle glorie herstel is nie?
’n Omgewingskundige wat gereeld die gebied besoek, het gesê hy het Saterdag 30 November die departement van toerisme ingelig oor die stand van sake.
“Daar is ook dryfhout en rommel van die bouwerk. Plekke van die inheemse woud is onnodig skoongemaak. ‘n Nuwe voetpaadjie is tussen die twee huise in die inheemse bos gemaak terwyl daar ‘n bestaande paadjie verder op is. Mens kan sien dat terwyl hulle was besig om die paadjie te maak, daar plekke was waar hulle die kreupelhout na regs skoongemaak het, maar daarteen besluit het en toe na links skoongemaak het. As ‘n omgewingskonsultant aangestel is, het hy het beslis nie sy werk gedoen nie.”
“Die afgelope naweek is wit plastiekdromme opgemerk wat teen die Katrivier sowel as in die rigting van Pepsi Pools dobber. Stukke van die drywende brug is langs die damwal sowel as onder die oorloop gestrand. Sal die huise nou vir informele intrekkers gelos word om te beset?”
Du Preez het gesê die munisipaliteit het aangedui dat die terrein onder toesig van ‘n omgewingsbeheerbeampte (ECO) gerehabiliteer moet word.
“Maar die publiek raak toenemend bekommerd dat die strukture steeds nie verwyder is nie. Die ECO moes ook toesig hou oor maatreëls om besoedeling van die waterloop en ander risiko’s te voorkom.”
“Die filmspan is weg, maar die skade bly.”
Edwards het belowe dat die munisipaliteit ‘n deeglike inspeksie sal doen sodra die skoonmaak- en omgewingsrehabilitasiepogings afgehandel is. Dit sal na verwagting binnekort wees. “Die munisipaliteit beraadslaag die toekoms van die strukture wat agterbly, met veiligheids-, wetlike en omgewingsoorwegings in gedagte.”
Red Pepper Pictures, wat in 1995 gestig is, is ‘n veelbekroonde produksiehuis in Johannesburg en Lagos.
Red Pepper het gegroei tot ‘n lewendige kreatiewe inhoudsagentskap en produksiehuis wat uitsaaiers, adverteerders en korporasies in Afrika en die wêreld bedien. Red Pepper se voorpunt digitale mediafasiliteite, aangepas vir uitsaaiproduksie en televisieadvertensies, produseer en fasiliteer meer as 4500 minute se inhoud per maand.
Red Pepper Pictures: “trots” Suid-Afrikaans maar hulle laat ‘n swak groen voetspoor na
Opruiming van inheemse bosse sigbaar aan die waterkant. Foto’s: Marthinus Esmeyer