Saam deur die droogte: As boere in ’n kring in die droë veld staan

“Net God se genade op genade.”

“Julle moet watch . . . ons is plaaskrygers vir Jesus.”

Dit is sesuur op ‘n Donderdagoggend in Desember, êrens by ‘n T-aansluiting in die Oos-Vrystaat. Die warm, genadelose son het nog nie die vlieswolkies weggebrand nie en uit die veld klink die geroep van korhane op.

Die droë gras knars onder die voete van die boere voordat hulle stil en met hul koppe gebuig in ’n kring gaan staan. Vir sommige van hulle dreig ‘n tweede misoes as dit nie binne die volgende paar dae reën nie.

Skouer aan skouer saam met hulle staan twee bestuurders van plaaslike landbou-ondernemings. Een van die boere, Fanus Coetzee, neem die voortou. Hy lees uit Johannes 11 van Lasarus wat dood was en van Jesus wat gehuil het toe hy sien hoe hartseer Lasarus se familie en vriende oor sy dood is. Al het Hy geweet Lasarus gaan uit die dood opstaan, was Jesus steeds hartseer saam met almal wat hartseer was.

In die kring van die boere vee bruingebrande hande ook trane af, sommer met die kêps wat in die hand vasgehou word. Ander hande rus bemoedigend op die kromgetrekte skouers van buurmanne wat swaartrek. Hulle bid vir reën – nie net in hul eie distrikte nie, maar oral waar die reën nodig is.

“Ons het ook nie net vir reën gebid nie, maar vir ‘n klomp ander goed, vir al die probleme wat ons elke dag ervaar,” sê Danie Bruwer, wat naby Paul Roux boer. Hul groep het besluit om minstens nog vir die volgende twee Donderdae in die aanloop tot Kersfees om sesuur in die oggend bymekaar te kom, dié boere van Paul Roux, van Kaallaagte, van Arlington.

“Ons wil ander mense ook aanmoedig om soortgelyke byeenkomste te hou. Dat ons dit nie net moet doen as dit sleg gaan nie, maar ook as dit goed gaan.  Dat ons in die aanloop tot Kersfees sal besef as God vir Jesus uit ‘n maagd uit gebore laat word om vir ons sondes te sterf, hoeveel te meer kan Hy nie ander wonderwerke vir ons ook doen nie.”

Hy sê dat dit op sy hart druk om mense bewus te maak van die emosioneel moeilike tye wat ons boere beleef en dat hulle op die oomblik geestelike ondersteuning baie nodig het.

“Daar is ouens wat nie kon plant nie, terwyl daar ouens is wat geplant het, maar nou sien hoe die goed verdroog . . . ek dink as dit nie hierdie week reën nie, gaan ons gesaaides dit nie meer maak nie. Hier was gister ‘n groot veldbrand, as jy in die veld loop, kraak dit so onder jou voete. Wat het ons om aan vas te hou? Net God se genade op genade.”

Net toe die byeenkoms ten einde loop, kom daar ‘n oproep van Bethlehem se veiligheidsbeheerkamer, wat op die kameras gesien het dat ‘n klomp boere by die T-aansluiting saamtrek en wonder wat aan die gang is.

“Julle moet watch . . . ons is plaaskrygers vir Jesus,” antwoord een van die boere die navraag.

Artikel uit Landbou.com

Volkskrag bid saam met ons boere en vir die hele land vir mildelike reën….die genade water uit die hand van God.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui