Agt verdagtes wat vermoedelik op pad was na Esikhawini waar hulle beplan het om ‘n winkel in besit van ‘n buitelander te roof, is net voor middernag op Donderdag 5 Desember 2024 in ‘n skietgeveg met die polisie in Richardsbaai doodgeskiet.
Die polisie het intelligensie oor die verdagtes geoperasionaliseer en hul voertuig is opgemerk waar hulle langs die John Ross-hoofweg na Richardsbaai ry.
Die polisie het hulle onderskep en vir die bestuurder beduie om te stop. Die bestuurder het die polisie se wettige instruksies geïgnoreer en weggejaag. ’n Hoëspoedvoertuigjaagtog het gevolg en die verdagtes het skote na die polisie begin afvuur. Die polisie het teruggeskiet en tydens die skietgeveg is agt verdagtes noodlottig gewond.
In die voertuig van die verdagtes, wat ook verbind is met ‘n onlangse transitorooftog wat by die Mzingazi-omgewing plaasgevind het, is drie vuurwapens, twee replika-gewere en huisbreektoerusting gevind.
Ondersoeke is aan die gang om vas te stel of die vuurwapens met ander misdaadtonele verbind word.
Die skietgeveg bring die totale aantal verdagtes wat tydens skietgevegte vandeesweek noodlottig gewond is op 10 te staan. Woensdag is een verdagte noodlottig gewond in ‘n skietgeveg met die polisie by F-afdeling in Umlazi. Die polisie was op soek na verdagtes wat gesoek is word vir ‘n rits moord- en kontant-in transito-roofsake toe hulle inligting ontvang het oor waar die verdagtes is. Toe die polisie by ‘n woning by F-afdeling aankom, het twee verdagtes op die polisie losgebrand en tydens ‘n gevolglike skietgeveg is een verdagte doodgeskiet en die ander een het die donkerte ingehardloop en arrestasie terselfdertyd ontduik.
Donderdag is nog ‘n verdagte noodlottig gewond tydens ‘n onderonsie met die polisie en nog twee is by F-afdeling in KwaMashu in hegtenis geneem. Die polisie het gereageer op berigte van ‘n voertuig wat in Phoenix gekaap is. Die gekaapte voertuig is by KwaMashu met drie insittendes opgemerk. Toe hulle die polisie gewaar, het een verdagte uit die voertuig gespring en te voet gehardloop terwyl hy op polisiebeamptes geskiet het. Die polisie het hom agternagesit en ná die skietgeveg is gevind dat die verdagte noodlottige skietwonde opgedoen het.
Die oorlewende verdagtes is in hegtenis geneem en sal binnekort in die hof verskyn.
