Die landbou-organisasie TLU SA spreek sy ernstige kommer uit oor die wydverspreide en toenemende onwettige dieselhandel in Suid-Afrika. Onlangse voorvalle in verskeie streke onderstreep die omvang van hierdie probleem, wat ’n komplekse netwerk van bedrog en misdaad behels. Dit is nie net ‘n plaaslike kwessie nie, maar ‘n landswye bedreiging, veral langs roetes wat swaarvoertuie gebruik as deurgange na grense en hawens.
“Die omvang van hierdie onwettige handel is verstommend,” sê Erika Helm, voorsitter van die TLU SA Plaaslike Regering Komitee. “Trokdrywers verkoop dikwels diesel sonder die eienaar se medewete aan handelaars langs die pad, dikwels by 24-uur-vragmotorstopplekke. Omdat slegs klein hoeveelhede diesel (20 tot 40 liter) per transaksie gesteel word, is dit moeilik vir eienaars om dit later op te spoor. Die ekonomiese impak is enorm — nie net verloor boere en vervoermaatskappye groot bedrae nie, maar die staat verloor ook waardevolle belastinginkomste.”
“Dit is kommerwekkend dat die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), Petroleum SA en SARS in baie gebiede min of geen aandag aan hierdie onwettighede gee nie. Korrupsie en ‘n gebrek aan optrede dra verder by tot die wetteloosheid, en daar is selfs bewerings dat sommige lede van die SAPS by die handel betrokke is. Hierdie situasie laat boere en transporteurs magteloos in die gesig van ’n groeiende krisis.”
Die publiek speel ’n belangrike rol in die bekamping van hierdie misdaad. TLU SA meen boere en besighede moet waaksaam wees en aandag gee aan tekens van verdagte aktiwiteit, soos ongemerkte vragmotors. Strenger beheermaatreëls, soos die gebruik van seëls, spesiale kleppe, en gevorderde opsporingstelsels, kan help om hierdie onwettige verhandeling te bekamp.
“Dromme met gesteelde diesel word slim versteek langs paaie, en dit verg konstante monitering om hierdie aktiwiteite op te spoor. In sommige gevalle is daar al gevind dat handelaars gate in die padreserwe grawe om die dromme te versteek,” sluit Helm af.
TLU SA hou polisieminister Senzo Mchunu verantwoordelik vir die bekamping van hierdie misdaad. Dit is onaanvaarbaar dat die belastingbetaler, wat reeds gebuk gaan onder ‘n swaar belastinglas, nog verder moet ly terwyl hierdie onwettige handel voortduur. Hierdie praktyke ondermyn die ekonomie, plaas groter druk op wettige ondernemings, en dreig om die land se stabiliteit te verswak. Hierdie probleem kan nie langer geïgnoreer word nie — die ekonomiese en sosiale gevolge is eenvoudig te groot. Dit is tyd dat diegene wat verantwoordelik is, aanspreeklik gehou word.
TLU SA bly verbind tot die beskerming van boere se regte en die bevordering van ‘n regverdige en wettige omgewing vir alle Suid-Afrikaners.
TLU SA
