Ontwrigting van strate en sleutelpaaie strek nou al oor 41 dae as gevolg van ‘n betwiste verkiesing in Mosambiek. Nasionale Hoofweg 4, wat Maputo en Matola verbind, is Woensdag met brandende bande en klippe versper.
Die Burgerlike Samelewingsplatform vir Verkiesingsmonitering se statistieke toon dat meer as 3 000 mense in hegtenis geneem en 76 dood is in die betogings wat deur opposisieleier Venâncio Mondlane geroep is.
Volgens Mondlane het armoede gewoonlik ± 46% van die bevolking geraak. Nou trek dit al by 65%. Daar is ook geen manier hoe Frelimo, die huidige regerende party, 71% van die presidensiële stemme kon verkry nie, is Mondlane se mening. Frelimo word beskryf as ‘n regime van onderdrukking.
In Maputo, Inhambane en Zambezia is skooleksamenlokale verlate. Leerders is met traangas bestook by die Cumbana Sekondêre Skool in Inhambane.
Tesame met onderdrukking deur die regime, was daar geen manier dat Frelimo, die regerende party, 71% van die presidensiële stemme sou kry nie, het hy aangevoer.
’n Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG)-beraad in Harare het die burgerlike samelewing en opposisiegroepe teleurgestel deur nie die situasie op enige tasbare wyse aan te spreek nie. SAOG het die verkiesing afgeteken, en Suid-Afrika het gesê hy sal sy leiding volg.
Die Mosambiekse grondwetlike raad moet nog hul beslissing oor die verkiesingsuitslae, wat aan Frelimo se Daniel Chapo ‘n amptelike telling van 71% van die stemme gegee het, met Mondlane op 20,32%, bekend maak.
Die Mosambiekse regering het belowe dat betogings nie die feesseisoen sal ontwrig nie, en gesê dat dit “alle beskikbare hulpbronne sal aanwend om te verseker dat sosiale geleenthede soos troues, begrafnisse en vieringe, onder andere, glad sal verloop”, het Mosambiek se minister van binnelandse sake, Pascoal Ronda Dinsdag gesê.
Daar is nou ‘n petisie vir die onmiddellike afdanking van die top-polisiebevelvoerder, Bernardino Rafael, wat beskuldig word van “die buitensporige gebruik van polisiemag, gebruik van dodelike ammunisie teen betogers, onbehoorlike gebruik van traangas en arbitrêre omryery van weerlose en ongewapende burgerlikes “.