Generaal-majoor Feroz Khan wen appèl in sy stryd om sy werk te red

Feroz Khan, hoof van misdaadintelligensie, het sy appèl gewen nadat hy dringend by die Arbeidshof aansoek gedoen het om die polisie te verhoed om ‘n spoedige dissiplinêre proses in te stel.

Die proses sou veroorsaak het dat Khan, die nasionale hoof van veiligheid en teenintelligensie, uit sy pos in die polisiemag ontslaan is.

Hy het die hof op 5 November genader om te verhoed dat die SAPD met die proses begin.

Tydens die uitspraak het die regter gesê dat Khan se dissiplinêre verhoor ingevolge regulasies 8 en 11 van die SAPD se dissiplinêre regulasies belê moet word, wat ’n minder streng proses sal wees.

Regulasie 8 sal Khan toelaat om sy reg op verteenwoordiging deur ‘n vakbondbeampte, vakbondverteenwoordiger of kollega uit te oefen en getuies saam te bring.

Regulasie 11 bepaal die SAPD moet ‘n voorsitter vir die dissiplinêre verhoor aanstel en dit moet ‘n werknemer van die polisiemag wees.

Die hof het verder beveel dat alle partye hul eie koste moet betaal.

Hierdie hele proses spruit uit ‘n voorval wat op 9 Julie 2021 plaasgevind het, toe 715 kg kokaïen in Aeroton in Johannesburg ontdek is wat as vragmotoronderdele vermom is. Volgens inligting destyds is die vrag wat verskeep is vanaf Brasilië, was die vragmotor vanaf die Durbanse hawe onderweg met ‘n houer wat die voertuigonderdele en kokaïen geberg het.

’n Gautengse hoofwegpatrolliebeampte het Khan na die toneel ontbied nadat hy bekommerd was oor ’n konflik tussen twee verskillende stelle polisiebeamptes.

Volgens Khan het hy na die toneel gegaan en ‘n paar beamptes oor hul aktiwiteite ondervra en die toneel verlaat sodra die Gautengse hoof van die Direktoraat vir Prioriteitsmisdaadondersoek (bekend as Valke), generaal-majoor Ebrahim Kadwa by die toneel opgedaag het.

Khan staar beskuldigings in die gesig dat hy met die ondersoek ingemeng en die gereg belemmer het.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui