Witbank: Beweerde OTM-diewe loop hul vas in die gereg

Kolonel Katlego Mogale, woordvoerder van die Valke, het gesê verskeie wetstoepassingsagentskappe insluitend die Taktiese Bestuur Operasionele Afdeling (TOMS) van die Valke en Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het opgetree nadat inligting ontvang is dat rowers vanoggend ‘n OTM-masjien in Witbank gaan opblaas.

Met die inligting wat ontvang is, kon die wetstoepassers operasioneel ontplooi na Schoongezicht in Emalahleni waar die groep na bewering by ‘n beweerde “safe house” bymekaar gekom het. Die span het die omgewing dopgehou vir die wit Toyota Hilux waaroor hulle inligting ontvang het.

“Die geïdentifiseerde voertuig is opgemerk waar hy uit die gebied gery het en toe die span probeer het om die voertuig te stop, het die verdagtes losgebrand en ‘n skietgeveg het ontstaan.

“Vyf verdagtes is noodlottig gewond en een beseer. ’n R5-geweer, ’n jaggeweer met ’n teleskoop, en drie 9mm-pistole asook springstof is op die toneel gevind,” het Mogale gesê.

Daar is beslag gelê op die bakkie waarin die verdagtes gery het, en sal nou verder ondersoek word vir leidrade en bewyse.

Luitenant-generaal Godfrey Lebeya, hoof van die Valke, het die werk van die wetstoepassingsagentskappe geloof.

“ ‘n Oproep word aan potensiële rowers gedoen om hulle aan sulke aktiwiteite te onttrek aangesien hierdie gedrag altyd ernstige gevolge het. Die span sal altyd waaksaam wees,” het Lebeya gesê.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui