Skrifgedeelte: Rom. 5:10 Want as ons, terwyl ons nog vyande was, met God versoen is deur die dood van sy Seun, veel meer sal ons deur sy lewe gered word nou dat ons versoen is.
Oordenking: Broeders en susters die kritieke vraag wat ons moet vra is: Het Christus gesterf om te red van die sonde of om verlossing/ versoening moontlik te maak?
Die aanhangers van die Arminianisme of dan die Charismatiese leer, sê dat Christus redding/ versoening/verlossing moontlik gemaak het, nie gered het nie!
Daar is verskeie probleme met dié stelling.
1. Die Bybel sê nêrens dat Christus se dood mense redbaar gemaak het nie!
Rom.5:10 Want as ons, terwyl ons nog vyande was, met God versoen is deur die dood van sy Seun, veel meer sal ons deur sy lewe gered word nou dat ons versoen is. U hoor, … versoen… nie versoenbaar nie!
Gal 3:13 Christus het ons losgekoop van die vloek van die wet deur vir ons ‘n vloek te word—want daar is geskrywe: Vervloek is elkeen wat aan ‘n hout hang— U hoor weer… losgekoop, … nie loskoopbaar nie. Matt 18:11 Want die Seun van die mens het gekom om te red wat verlore is. Nie redbaar nie, maar gered.
2. Die tweede probleem met die stelling dat God in wese vir almal gesterf het, almal dus redbaar gemaak het, is die volgende: Dit verdraai die feit wat dat ons uit genade alleen gered is. As Jesus se sterwe alle mense redbaar gemaak het, bring dit ‘n stuk werke in! Christus het nou Sy deel gedoen, deur Sy sterwe is ek redbaar, nou moet ek my deel doen, ek moet my bekeer in tot geloof kom!
Christus het gesterf om effektief verlossing te koop, verlossing te gee vir sy uitverkore volk! Die Bybel leer duidelik dat daar mense gemaak is, vir die doel van die verdoemenis! Rom. 9:22 En as God, al wil Hy sy toorn bewys en sy mag bekend maak, tog met groot lankmoedigheid die voorwerpe van toorn wat vir die verderf toeberei is, verdra het, So ook Spr. 16:4 Alles het die HERE gemaak vir sy doel, ja, ook die goddelose vir die dag van onheil.
Christus se dood was nie om almal redbaar te maak nie, maar om volkome redding te gee vir sy uitverkore kinders!
Mat 1:21 en sy sal ‘n seun baar, en jy moet Hom Jesus noem, want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos. Luk 19:10 Want die Seun van die mens het gekom om te soek en te red wat verlore was. 1Tim. 1:15 Dit is ‘n betroubare woord en werd om ten volle aangeneem te word, dat Christus Jesus in die wêreld gekom het om sondaars te red, van wie ek die vernaamste is. Pet. 3:18 Want Christus het ook eenmaal vir die sondes gely, Hy die Regverdige vir die onregverdiges, om ons tot God te bring—Hy wat wel gedood is na die vlees, maar lewend gemaak deur die Gees;
Hierdie is die hart van die debat!
Die Bybel leer ons dat verlossing, heiligmaking, versoening en uiteindelik die verheerliking (wat die gelowige in die hiernámaals eers word) verseker is, gewaarborg is vir hulle vir wie Christus gesterf het. Hulle kry dit uit genade, hulle het daar geen aandeel aan, deur net redbaar gemaak te wees en die res sélf moet doen nie.
Daar is verse wat moontlik die indruk laat dat Christus vir die hele wêreld gesterf het:
Daar is die verse wat dit laat klink of Christus vir die hele wêreld gesterf het. Heel vooraan staan Joh. 3:16,17. Vir die van u by wie ek reeds hierdie maand se huisbesoek gedoen het, sal weet, want ons het dit ook daar bespreek. Daarnaas is daar nog: Joh. 1:9; 29; 4:42; 6:15; 2Kor. 5:19.; 1Joh. 2:1-2 en 4:14
Oor al hierdie vers kan die volgende gesê word.
1. Die woord “wêreld” beteken nie oral in die Bybel, elke mens wat op aarde is nie! Om die waarheid te sê, dikwels kan dit nie dit beteken nie! Joh. 7:7 Die wêreld (kan tog nie almal wees nie want daar was die gelowiges wat vir Hom lief was/is)kan julle nie haat nie; maar My haat hy, omdat Ek van hom getuig dat sy werke boos is.
12:19 En die Fariseërs het vir mekaar gesê: Sien julle dat julle niks vorder nie? Kyk, die hele wêreld loop agter Hom aan. (was dit elke mens, tog duidelik nie!)
Rom. 1:8 In die eerste plek dank ek my God deur Jesus Christus oor julle almal dat julle geloof verkondig word in die hele wêreld.
Ons het reeds gesien dat die Bybel duidelik leer dat Christus nie vir almal gesterf het nie, maar vir sy uitverkore kinders, dus as die Bybel daarvan praat dat Hy vir die wêreld gesterf het, kan dit nie beteken vir almal in die wêreld nie, maar dui dit op die wêreld van Sy uitverkorenes.
2. Die woord wêreld beteken soms: die sonde vervulde wêreld of die sondige wêreld in die algemeen. Die sluit in hulle wat nie God se genade gekry het nie, die heidense wêreld. 1Jo 2:1 My kinders, ek skryf hierdie dinge aan julle, dat julle nie moet sondig nie; en as iemand gesondig het, ons het ‘n Voorspraak by die Vader, Jesus Christus, die Regverdige. 2 En Hy is ‘n versoening vir ons sondes, en nie alleen vir ons s’n nie, maar ook vir dié van die hele wêreld.
As die Bybel homself sou kon weerspreek, kom dit neer daarop dat op minstens één van twee plekke die Woord van God lieg. God kan nie lieg nie want Hy IS waarheid! Dus die woord wêreld moet geïnterpreteer word in die lig van die hele Bybel!
So is daar ook probleem vers wat betref die woord alle of almal! Lees gerus Rom. 5:18; 1Kor.15:22; 2Kor. 5:14-15; 1Tim.2 :4-6; Heb.2:9 en 2Pet. 3:9. Soos die woord wêreld nie kan beteken, elke indiwidu op aarde nie, so ook die woord almal nie!
Nee, broeders en susters die geheel konteks van die Bybel moet in berekening gebring word en as u nie genoegsame kennis het om dit te doen nie, moenie u slim hou nie, vra iemand wat wel die kennis het en wat jy kan vertrou!
Is die versoeningswerk van Christus beperk? Of Het Christus vir almal gesterf en daarom almal redbaar gemaak?
Ja, die sterwe van Christus is beperk en beperk beteken, Hy het gesterf om sy uitverkorenes te red/ klaar te red! Nee Christus het nie gesterf sodat almal redbaar is en die mens die res moet doen nie!
Deur die genade alleen is julle gered, en dit nie uit julleself nie!!!
Gebed: Hemelse Vader, dankie vir die volmaaktheid van U Woord. Lei ons asseblief Vader om die Woord te verstaan soos U dit gewil het! AMEN
Dr Gideon Grobler