Verkragters op parool herhaal hul misdade

In ‘n tragiese nadraai van die voortslepende geslagsgebaseerde geweldskrisis in Suid-Afrika, is twee mans lewenslank tronk toe gestuur nadat hulle verkragting gepleeg het terwyl hulle op parool was vir soortgelyke misdade.

Die Protea-landdroshof het die 39-jarige Albert Beukes tot twee lewenslange tronkstraf gevonnis vir twee aanklagte van verkragting en ‘n bykomende 15 jaar vir ‘n derde aanklag. Hy is ook 18 maande tronkstraf opgelê vir ontvoering.

Hy het die eerste klaagster, 29 jaar oud, verkrag nadat hy haar na ‘n oop veld in Eldoradopark gesleep het toe sy die nag van 16 Desember 2014 van ‘n nabygeleë taverne huis toe gestap het.

Hy het die tweede klaagster op 20 April 2016 verkrag toe sy van ‘n nabygeleë taverne gestap het.

Beide die vrouens het klagte aanhangig gemaak by die SAPD, DNS-monsters is verkry en gestoor, aangesien die oortreder onbekend was.

Hy het die derde 47-jarige klaagster verkrag nadat hy op 02 Februarie 2019 haar shack in Kliptown binnegegaan het toe sy gereed gemaak het om te slaap.

“’n Verbyganger het haar om hulp hoor skree en na die hut gehaas. Beukes kon vlug, maar het van sy klere agtergelaat,” het Phindi Mjonondwane, streekwoordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) Donderdag gesê.

“Gelukkig kon sy hom herken en nadat sy ‘n saak geopen het, is sy deur die polisie na die beskuldigde se plek begelei. Met hul aankoms het hulle sy vrou gekry, wat sy klere positief uitgeken het.”

Die beskuldigde was op vlug, totdat die ondersoek deur Kaptein Smith aan die lig gebring het dat hy ‘n paroollid was wat vrygelaat is nadat hy ‘n vonnis van 12 jaar vir verkragting uitgedien het.

Smith het die beskuldigde opgespoor deur sy paroolbeampte van die Johannesburg Community Corrections.

Hulle het gereël om Beukes in hegtenis te neem tydens een van sy besoeke aan Community Corrections in Julie 2019. Hy is daarna deur DNS verbind aan die twee verkragtings in 2014 en 2016 se onopgeloste dossiere.

In die afsonderlike saak het die Protea-landdroshof Woensdag die 40-jarige Sibulelo Mxiki skuldig bevind aan verkragting van ‘n 33-jarige vrou.

Mxiki en die klaagster was familievriende, en sy het op 26 Desember 2021 na Mxiki se plek gegaan om sy ma te groet.

“Die beskuldigde het die klaagster na haar woning vergesel. Met sy aankoms het hy haar met ’n klip gedreig,” het Mjonondwane gesê.

“Hy het toe die sleutels by haar geneem en terwyl hy in die huis was, het hy met geweld herhaalde kere seksuele omgang met haar gehad.”

Mxiki is later by sy woonplek in hegtenis geneem nadat hy deur die klaagstser uitgewys is.

Ter voorbereiding van vonnisverrigtinge het ondersoekbeampte, sers Themba Tshabalala van die Moroka-eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe (FCS) van die Suid-Afrikaanse Polisiediens bewyse ingesamel dat die beskuldigde op parool was vir die misdryf van huisbraak en verkragting waar hy in Julie 2016 tot 10 jaar gevonnis is.

Streekhofaanklaer, Sanele Ndevu, het tydens strafverswaring aangevoer dat die beskuldigde die vertroue wat sy in hom gehad het geskend het en dat die beskuldigde ‘n herhaalde oortreder vir soortgelyke oortredings is.

Hy is tot lewenslange tronkstraf gevonnis.

Hierdie tragiese verwikkelings toon weer eens dat aansoeke om parool nie streng genoeg hanteer word nie. Verkragting is ‘n skedule 5 misdaad en ligte vonnisse moedig misdadigers aan om voort te gaan met hul misdade wanneer hulle op parool vrygelaat word.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui