Verskeie Pretoriase kinders het die afgelope maande positief getoets vir E.coli, wat gesondheidsbeamptes gevra het om die uitbreking en jou bronne van die besmetting te ondersoek.
Sheree Gildenhuys, het ander op sosiale media gewaarsku oor die gevare van E.coli nadat haar ses maande oue dogtertjie onlangs met twee stamme E.coli gediagnoseer en gehospitaliseer is.
Me Gildenhuys, woonagtig in Equestria, Oos van Pretoria, sê haar dogtertjie het geen ander simptome as om een keer per dag op te braak nie en sy het aanvanklik gedink dit is deel van tandekry. Die dogtertjie is uiteindelik na noodsorg geneem nadat die braking toegeneem het en twee stamme op E.coli en nog ‘n virusbakterie gevind is nadat stoelgangtoetse gedoen is.
“Wees versigtig met kraanwater; ons kook haar water elke keer voordat ons dit vir haar gee.”
Sy het bygevoeg dat daar baie kinders in die pediatriese saal vir E.coli behandel word.
Nog ‘n gesin wat in Wonderboom-Suid woon en die grootouers by wie die seuns bedags bly, bly in Villieria in Pretoria, het oor hul onlangse ervaring gesels. Elzan Hatting, die ma van ‘n kleuterseun, het gesê haar seun het ook positief getoets vir E.coli. en is gehospitaliseer.
“Ons het hom aanvanklik vir ’n verkoue behandel omdat hy ’n loopneus gehad het, maar dit het net nie beter geword nie. Sy neus het vir sowat drie dae aangehou loop, en saans het hy vreeslik gehuil en opgekrul asof hy maagpyn gehad het.
“Op die vierde dag het hy gereeld ontlasting begin kry en wou nie eet nie. Ons het aangeneem hy kry tande. Die aand het hy skielik ’n koors van 38,7°C ontwikkel. Ek het dadelik vir hom medikasie gegee, maar hy het dit dadelik opgegooi.”
By die noodsorg het hulle die kind dadelik op ‘n IV-drup gesit en sy koors het tot 39,4°C gestyg. Hy was erg gedehidreer omdat hy geweier het om enige kos en vloeistowwe te neem.
Bloed- en stoelgangtoetse het bevestig die kind het positief getoets vir E.coli. Die seun was vir 4 dae in die hospitaal en daar was geen sukses om sy koors af te bring nie.
Beide me Gildenhuys en Hatting het bevestig hulle het nie die Pretoria-omgewing verlaat nie.
Hier is ‘n lys van sy simptome:
Hoë koors met kouekoors
Loopneus
Maagkrampe en diarree
Geen/lae eetlus
Rooi uitslag op die liggaam
Erge brand op die boude
Me Hatting het gesê dit het ‘n paar weke geneem vir haar seuntjie se dermbewegings om na normaal terug te keer, sy eetlus om terug te keer en vir hom om weer homself te wees.
Die woordvoerder van die Gautengse Gesondheidsdepartement, Motalatale Modiba het verduidelik dat dit van groot belang is om daarop te let dat Escherichia Coli (E.coli) uit ‘n groot groep bakterieë bestaan wat in ses onderverdeel is.
“Van Januarie tot op datum het die Tshwane-distrik elf gevalle van Shiga-gifstofproduserende E.coli (STEC) by verskillende instellings aangemeld, insluitend ‘n skool en ‘n aftreeoord.”
Hy het gesê daar is tans geen verband tussen hierdie sake en die plaaslike watervoorsiening nie.
Modiba het gesê, benewens waterbesoedeling, sluit ander potensiële bronne van die E.coli-uitbrake voedselgedraagde oordrag, swak sanitasie en higiënepraktyke in.
Hy het gesê wanneer ‘n uitbraak plaasvind, word ‘n ondersoekspan geaktiveer om beide kliniese en omgewingsmonsters te assesseer, wat getoets word om die spesifieke patogeen te identifiseer.
“Dit is ook belangrik om daarop te let dat die munisipale departement daaglikse en maandelikse watermonsters doen en E.coli-kolonievormende eenhede (CFU) ontleed om waterveiligheid te monitor.”
Hier is die belangrikste simptome van E.coli gastro-enteritis:
- Diarree wat dikwels waterig en soms bloederig is.
- Braking
- Maagpyne en krampe.
- Verlies aan eetlus.
- Koors
Modiba het diegene wat twee of meer van die bogenoemde simptome toon, veral diarree en braking, aangeraai om dadelik mediese hulp te soek en vloeistowwe te kry om dehidrasie te voorkom.
Hier is ‘n paar voorkomende hulpmiddels om jouself en jou gesin teen potensiële besoedeling te beskerm:
- Was hande met seep en water vir 30 sekondes voordat die kos aangeraak of voorberei word.
- Spoel alle rou vrugte en groente uit onder lopende water voor jy dit eet.
- Gebruik verskillende oppervlaktes om verskillende soorte kos voor te berei. Oppervlaktes soos snyplanke kan bakterieë versprei. As jy nie verskillende snyplanke het nie, was oppervlaktes deeglik met seep en warm water nadat jy met rou vleis gewerk het en voordat jy ’n ander soort kos (soos rou groente) daarop sit.
- Maak alle vleis gaar tot ‘n veilige temperatuur voor dit geëet word. Moenie gaar vleis op ‘n bord sit saam met rou vleis nie of waarop dar met rou vleis gewerk is nie.
- Verkoel oorskiet dadelik.
Modiba het gesê dat, in reaksie op die voortslepende voedseldraagbare siektes in die provinsie, gesondheidsopvoeding oor higiënepraktyke aansienlik verskerp is.
Gemeenskapslede en individue betrokke by skoolvoedingskemas word opgevoed oor die belangrikheid van voedselveiligheid. Hy het gesê om bewusmaking verder te verhoog, word verskeie voedselveiligheidsveldtogte in die geaffekteerde gebiede gevoer, insluitend by winkelsentrums en skole.
Hierdie inisiatiewe het ten doel om die publiek in te lig oor die risiko’s en voorkomingsmetodes wat verband hou met voedseldraagbare siektes.
“In instellings waar gevalle aangemeld is, word gesondheidsopvoeding ook aan voedselhanteerders verskaf, met die fokus op behoorlike higiënepraktyke, voedselhantering en voorbereidingstegnieke.”
