Rugby 2024: Pieter Steph du Toit is Wêreldrugby se Speler van die Jaar

Die Springbok-losvoorspeler Pieter-Steph du Toit is Sondagaand in Monaco vir ‘n tweede keer as Wêreldrugby se Speler van die Jaar gekroon is.

Du Toit het sy eerste Speler van die Jaar-toekenning in 2019 in Japan gewen en word die eerste Suid-Afrikaner wat die toekenning twee keer wen.

Die enigste ander veelvuldige wenners van die gesogte individuele toekenning is die All Blacks Dan Carter en Richie McCaw, wat drie gewen het, en Beauden Barrett wat dit twee keer gewen het.

Eben Etzebeth en Cheslin Kolbe wat albei verdienstelike wenners sou wees as hulle gekies is, het teen hul spanmaat verloor. Albei het die toekenning nou meer as een keer misgeloop, nadat Etzebeth in 2023 en 2013 benoem is, en Kolbe in 2019.

Die Bokke het Wêreldrugby se span van die jaar oorheers met sewe spelers, naamlik die drie Wêreldspeler-benoemdes, Du Toit, Kolbe en Etzebeth, asook die stut Ox Nche, die haker Malcolm Marx en die senters Damian de Allende en Jesse Kriel.

Vroeër die aand is die Springbokafrigter het Rassie Erasmus vir die Afrigter van die Jaar-toekenning misgeloop ten gunste van die Franse Sewesafrigter Jerome Daret, wat sy span na die Sewesreeks en Olimpiese titels gelei het.

Dit is teleurstellend dat Erasmus ook hierdie keer geïgnoreer is, ondanks ‘n skitterende jaar vir die Bokke wat 11 uit 13 wedstryde gewen het en ‘n oorheersende Rugbykampioenskapstitel gewen het.

Ten spyte daarvan dat hy self ‘n toekenning misgeloop het, is Erasmus geweldig trots op die Bok-spelers wat by die toekennings betrokke is.

“Om so baie van ons spelers by die toekennings te hê, is ’n bewys van hul harde werk en toewyding aan die span en die Springbok-handelsmerk, en dit is wat hierdie so ’n spesiale groep maak,” sê Erasmus.

“Wat hierdie prestasie selfs betekenisvol maak, is dat ons hierdie seisoen altesaam 50 spelers gebruik het en ons groep gereeld geroteer het, wat die kaliber spelers wys wat hulle is. Maar rugby is ‘n spansport, en dit neem elkeen van die spanlede om hul deel te doen om mekaar in posisies te plaas om te skitter.

“Met die groot spelerdiepte in ons span, is ek seker nog ’n paar spelers was naby aan benoeming, maar elkeen van hierdie spelers verdien beslis hierdie erkenning en ons is baie trots op hulle.”

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui