Die Polisie in Limpopo het ‘n groot deurbraak gemaak in die stryd teen onwettige springstof ná die inhegtenisneming van twee buitelandse manlike verdagtes, onderskeidelik 35 en 37 jaar oud, vir die besit van onwettige springstof ter waarde van R2 miljoen op Dinsdag, 19 November 2024, in die Louis Trcihardt-polisiëringsgebied, Vhembe-distrik.
Lede van Vhembe Flying Squad het ‘n taktiese stop en deursoekingsoperasie uitgevoer op ‘n voertuig wat op die N1-Suid enkele kilometers buite Louis Trichardt gery het in die rigting van Pietersburg, waar hulle vier sakke in die kattebak ontdek het, met Super Power 90 Gel Tubes. Die beamptes het beide die bestuurder en die passasier in hegtenis geneem. Die springstofeenheid is na die toneel ontbied en bevestig dat dit kommersiële springstof is.
Die voertuig is ook as deel van die voortgesette ondersoek gekonfiskeer.
Die Provinsiale Kommissaris van Polisie in Limpopo, luitenant-generaal Thembi Hadebe het die beamptes geloof vir hul waaksaamheid en vinnige optrede om die bedreiging van onwettige springstof, wat in ernstige en gewelddadige misdade gebruik kon word, hok te slaan.
Verdere ondersoek sal gedoen word om die oorsprong en beoogde bestemming van die springstof op te spoor.
Die verdagtes sal na verwagting Donderdag, 21 November 2024 in die Louis Tricahrdt-landdroshof verskyn op ‘n aanklag van die besit van onwettige springstof.