Sondagoordenking: Totale verlorenheid

Met dank aan Dr Gideon Grobler, VDM Gereformeerde gemeente Vereeniging,Bybelse Berader

Skrifgedeelte: Ef. 2:1  En julle het Hy lewend gemaak, wat dood was deur die misdade en die sondes 

Oordenking: Wat die gevolg van die sondeval op die mens was, bly deur die geskiedenis ‘n sensitiewe debat. Die debat handel daaroor óf die sondeval die mens in sy geheel aangetas het (later meer oor die term aangetas), en of dit gedeeltelik was. Het daar iets goed oorgebly in die mens na die sonde val?

Die twee strome bestaan minstens van die vroegste jare van die kerk af. Die kerkhervormers, en meer spesifiek Calvyn het gesê dat die mens in totaliteit verlore is. In totaliteit verander is in die sondeval. Daar het dus niks goed oorgebly in die mens nie.

Pelagius het gesê: nee, die mens is sonder sonde gebore. Die mens het die vrye wil om te sondig of nie. Later is daar ‘n verstellingkie aan sy leer stellings gemaak deur die neo-pelagianiste. Nog later het Arminius na vore gekom as vegter van die denkwyse en ook hý het verstellings gemaak, maar in wese bly die standpunt dat die mens kan kies of hy sondig of nie.

Calvyn skryf dat die mens in totaliteit nie die vermoë het om te kan glo nie. Die sondaar is nie siek as gevolg van die sonde nie, maar dood! Na die sondeval is die hart (beheer sentrum) verleidend en vals! Sy wil is nie vry nie, maar is gebonde aan sy sondigheid! Daarom wil hy nie ek kan hy nie vir die goeie kies nie. Daarom moet daar wedergeboorte wees, om wat dood was, weer tot lewe te kry. Hiersonder kan hy nie glo nie! Geloof as só danig is ‘n gawe van God!. Iemand skryf hieroor: “Dit is God se geskenk aan die sondaar, nie die sondaar se geskenk aan God nie!”

Arminius skryf dat die mens se val na die sondeval, gedeeltelik was, nie geheel nie! Die mens, sê hy, het nie sy vermoë om self te besluit verloor nie. So ook nie sy vrye wil om self vir God te kies nie. Die mens kan op grond hiérvan sélf tot bekering en geloof kom. Die mens se vrye wil werk saam met die Heilige Gees in die proses, sê hy.

U as leser en ek as skrywer sal dit eens wees, vergeet wie wat gesê het, wat sê die Skrif?

Die Skrif teken nie ‘n mooi prentjie van die, in sonde vervalle mens nie! Die Bybel sê baie duidelik dat alle mense in sonde ontvang (dus bevrug is) en gebore word. (Ps.51:5; 58:3) Die Skrif sê duidelik dat die mens na die sondeval geestelik dood is! (Gen.2:16-17; Rom. 5:12; Ef. 2:1; Kol. 2:13) Die Woord in uitdruklik daaroor dat die sondaar se hart bedorwe is! (Gen.6:5; 8:21; Pred. 9:3; Jer. 17:9; Markus 7:21-23; Joh. 3:19; Rom. 8:7-8 en nog baie ander.) Ek haal net die laaste gedeelte vir u gerief aan: 7  omdat wat die vlees bedink, vyandskap teen God is; want dit onderwerp hom nie aan die wet van God nie, want dit kan ook nie. 8  En die wat in die vlees is, kan God nie behaag nie; 

Die Bybel leer verder dat die sondige mens, slawe van die sonde is! Joh. 8:34  Jesus antwoord hulle: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle dat elkeen wat die sonde doen, ‘n dienskneg van die sonde is. In vers 44 sê Hy: 44  Julle het die duiwel as vader, en die begeertes van julle vader wil julle doen. Hy was ‘n mensemoordenaar van die begin af en staan nie in die waarheid nie, omdat daar in hom geen waarheid is nie. Wanneer hy leuentaal praat, praat hy uit sy eie, omdat hy ‘n leuenaar is en die vader daarvan. 

Hierdie waarheid uit die Bybel dat die mens in totaliteit verlore is en nie die vermoë het om iets goed te doen nie (Pred.7:20), is onpopulêr want die mens wil hom tog so graag op die een op ander wyse self op die skouer klop. Ek het vroeër verwys na aangetas. Om te sê dat die mens deur die sonde aangetas is, is ‘n totaal onderbeklemtoning van die waarheid. Die waarheid wat sê dat ek nie siek of aangetas is nie, maar totaal verlore en dood, sonder die wedergeboorte in Christus.

Gebed: Hemel Vader, laat ons tog elke dag ons sonde verlorenheid onthou, sodat daar by ons die soeke is, die magtelose hande in die lug steek is, na U genade in ons Here Jesus Christus!

AMEN

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui