Vier SAPD-lede verbonde aan die Barberton-polisiestasie is in aanhouding nadat hulle na bewering op Donderdag, 14 November R1,6 miljoen van ‘n vermeende zama zama-betaalmeester gesteel het.
Die vier polisiesersante, Danisile Precious Mahlangu (47), Mandla Saky Ndlovu (49), Bongani Dlamini (40) en Doctor Zulu (42) het op ‘n huis toegeslaan wat behoort aan ‘n man wat glo ‘n betaalmeester vir sommige zama zamas is. Hulle het die huis deursoek en na bewering R1,8 miljoen in ‘n klerekas gevind.
Die polisielede het die seun van die betaalmeester wat alleen by die huis was, in hegtenis geneem en na die polisiestasie geneem. Hulle het die gearresteerde man toegesluit en met die geld verdwyn, sonder om hom aan te kla of die gekonfiskeerde geld by die polisistasie as bewysstukke in te boek, soos dit standaardprosedure is.
“Hulle het vir vyf uur verdwyn,” het die Valke se provinsiale woordvoerder, kaptein Dineo Sekgotodi, gesê.
Die aangehoude seun het ‘n saak van diefstal teen die vier polisiebeamptes geopen.
Misdaadintelligensie is ontbied en met hul aankoms het hulle die vier SAPD-lede na die stasie teruggeroep.
“Met hul terugkeer het die beamptes slegs ‘n bedrag van R200 000 gelewer, wat volgens hulle by die betaalmeester se huis gevind is,” het Sekgotodi gesê.
Die vier polisielede is in hegtenis geneem en by die Nelspruit-polisiestasie aangehou vir diefstal en regsverydeling. Hulle het op 15 November in die Nelspruit-landdroshof verskyn.
Die saak is tot Dinsdag, 19 November, vir borgtogaansoek uitgestel.
