NELSPRUIT – Die waarnemende provinsiale kommissaris van die SAPD in Mpumalanga, generaal-majoor (dr) Zeph Mkhwanazi, het die sinnelose daad van geweld waar ‘n vroulike polisiekonstabel (32) en ‘n manlike slagoffer (35) na bewering deur ‘n verdagte (35) man geskiet is ten sterkste veroordeel.
Die voorval het glo Woensdagaand, 13 November 2024 omstreeks 22:00 in Embalenhle plaasgevind. Die manlike slagoffer het intussen op 14 November 2024, in die hospitaal aan sy beserings beswyk. Intussen ontvang die vroulike slagoffer, wat ‘n polisiekonstabel is, steeds mediese behandeling.
Volgens inligting het die Polisie by Embalenhle berigte van geweerskote in die omgewing ontvang. Met hul aankoms op die toneel het die polisie en mediese noodpersoneel die twee slagoffers gevind waar hulle langs ‘n voertuig met ernstige skietwonde gelê het.
Na hierdie verskriklike nuus is ‘n soektog na die verdagte van stapel gestuur en danksy die vinnige koördinering en samewerking deur die SAPD-lede, met hul eweknieë van die Flying Squad Eenheid in die Noordwes Provinsie, is die verdagte tussen Potchefstroom en Ventersdorp in vasgetrek en gearresteer.
’n Moordsaak word nou ondersoek en die verdagte sal na verwagting binnekort in die hof verskyn.
Die motief vir hierdie voorval is in hierdie stadium nog onbekend en dit sal deel wees van die ondersoek, maar huishoudelike geweld kan nie uitgesluit word nie.
Die waarnemende provinsiale kommissaris van die SAPD in Mpumalanga, generaal-majoor (dr) Zeph Mkhwanazi het verder sy kommer uitgespreek oor dade van geweld teen vroue, en hierdie keer is ‘n polisiebeampte een van die slagoffers.
“Ons voorlopige ondersoek dui op die moontlikheid van Gesinsgeweld. Ons gedagtes en gebede is by die slagoffer(s) en hul families gedurende hierdie moeilike tyd. Ons sal verseker dat geregtigheid gedien word vir die slagoffers en dat die verdagte die volle mag van die wet die gesig staar.”