Die rand het vandeesweek die sielkundige grens van R18 oorskry danksy Donald Trump se verkiesingsoorwinning, maar aan die positiewe kant het indiensneming met 1,4% gestyg, terwyl mynbouproduksie skerp met 4,7% toegeneem het.
Die plaaslike geldeenheid het met meer as 5% teenoor die Amerikaanse dollar verswak vergeleke met ‘n week gelede en het Vrydagmiddag teen R18,20 verhandel.
Die rand het ook veld verloor teenoor die euro en pond. “Dit moet nog gesien word waar die rand gaan vestig en of die onlangse versterkende neiging sal terugkeer.”
Bianca Botes, direkteur van Citadel Global, wys daarop dat die rand verswak het tot sowat R18,30/$, sy laagste vlak sedert vroeg in Augustus, onder druk van die sterk dollar en minimale stimulusmaatreëls van China, ‘n belangrike handelsvennoot.
Goud het tot onder $2 560/ons gedaal, wat sy vyfde agtereenvolgende daling tot ‘n agt weke laagtepunt merk, aangesien sterk risiko-aptyt en ‘n stygende dollar die vraag verminder het.
Brent-ruolie het sowat $72/vat gebly wat beïnvloed word deur die Internasionale Energieagentskap se voorspelling van ‘n potensiële ooraanbod in 2025 as die uitgebreide Organisasie vir die Petroleumuitvoerlande, OPEC+, voortgaan met beplande produksieverhogings.
Na drie opeenvolgende kwartale van stygings het die amptelike werkloosheidskoers volgens Statistieke SA met 1,4% tot 32,1% in die derde kwartaal gedaal. Intussen het die uitgebreide werkloosheidskoers met 0,7% tot 41,9% gedaal.
Mynbouproduksie het in September skerp met 4,7% toegeneem, nadat dit in Augustus met 0,3% gestyg het. Die grootste bydraers was platinumgroepminerale en ystererts, maar steenkool en goud het verlangsaam.
Volgens Statistiek SA het vervaardigingsproduksie het in September met 0,8% afgeneem, soortgelyk aan Augustus. Dit kan toegeskryf word aan die kategorie motorvoertuie, onderdele en bykomstighede met 18,7%. Petrol, chemiese produkte, rubber- en plastiekprodukte het met 3,1% gestyg.
