Neil Coetzer (49) was Vrydagaand vanaf Rustenburg op pad na Pretoria toe sy bakkie om ongeveer 20:30 ‘n klipversperring, wat deur rowers daar geplaas is, getref het.
“Neil het ‘n ent verder gery tot waar hy kon uitklim om die band te ruil,” het sy broer, Jacques Coetzer gesê.
“Volgens Neil was hy besig om die band te ruil toe vier gewapende mans skielik agter hom verskyn het. Hulle het onmiddellik begin skiet. Neil het met die wielmoersleutel steeds in sy hand begin hardloop. Twee het hom agternagesit. Hy het omgedraai en een met die moersleutel geslaan en toe skiet die ander een hom in die bors. Hy het net aanhou hardloop,” het Jacques gesê.
Coetzer het probeer om voertuie te stop, maar motoriste het verby gery.
Kobus Grobler van Aequitas Sekuriteit en GPF-lede het na die toneel ontplooi na inligting van Anglo American se Taktiese Reaksie-eenheid ontvang is dat ‘n hommeltuig die motoris, wat vermoedelik in ’n lokval gelei is, op die N4 waargeneem is.
GPF-lede het die bebloede Coetzer op die snelweg gekry. Die polisie was vinnig op die toneel en nooddienste is ontbied. Weens die erns van sy skietwond is Coetzer per noodhelikopter na ‘n hospitaal in Johannesburg afgevoer.
Na ‘n soektog in die bosse waar die hommeltuig verdagte persone waargeneem het, is twee mans in hegtenis geneem.
Baie dankie aan Kobus Grobler, die GPF-lede, Anglo American, polisie en almal wat gehelp het.