POTCHEFSTROOM – As deel van die bekamping van roof met verswarende omstandighede in ooreenstemming met die Veiliger Feesseisoen Operasie Shanela, is ‘n verdagte in Tlhabane gearresteer ná ‘n kontant-in-transito (CIT) rooftog. Die voorval het omstreeks 17:30 op Maandag, 11 November 2024 plaasgevind.
Daar word beweer dat ‘n wit Mercedes Benz-voertuig op ‘n kontant-in transito-sekuriteitsvoertuig op die R104-pad by Kroondal in Rustenburg vasgery het. Hoewel die veiligheidswag (bestuurder) aanhou ry het, is hy gedwing om te stop nadat skote op hul voertuig gevuur is. Gevolglik het hy en sy kollega uit die voertuig gespring, maar is deur verdagtes betrap wat hulle van hul 9 mm-pistole beroof het. Die verdagtes het toe die veiligheidswa met plofstof opgeblaas en met ‘n onbekende bedrag kontant van die toneel gevlug en in twee voertuie gery. Die veiligheidsbeamptes is nie beseer nie.
Ná die voorval het inligting wat ingesamel is die polisie na ‘n adres in Kagiso, naby Krugersdorp, gelei, waar beslag gelê is op ‘n Toyota Quantum wat vermoedelik gebruik is om die verdagtes tussen Gauteng en Noordwes te vervoer. Lede is toe na Tlhabane, naby Rustenburg, en met die hulp van Rustenburg Flying Squad is een vrou, in haar 40’s, Dinsdag in die vroeë oggendure in hegtenis geneem vir die besit van vermoedelik gesteelde/gekaapte motorvoertuie. Die span het op twee voertuie beslag gelê – ‘n Toyota-bakkie (gesteel in Bloemfontein gedurende Augustus 2024) en ‘n Volkswagen Tiguan (gekaap van sy eienaar in Augustus 2024, in Boitekong). Daar word vermoed dat hulle tydens die pleging van die misdaad gebruik is. Die verdagte sal na verwagting binnekort in die Rustenburg-landdroshof verskyn.
Die Provinsiale Polisiekommissaris, Luitenant-Generaal Sello Kwena, het alle lede wat betrokke was by die opsporing van die verdagte en voertuie gekomplimenteer vir hul ywer en die toepassing van ‘n multidissiplinêre benadering om die verdagte aan die pen te laat ry en om ‘n veilige omgewing vir almal te verseker, veral gedurende die Feestyd.
Generaal Kwena versoek ook lede van die gemeenskap om hulle daarvan te weerhou om by misdaadtonele te peuter en/of die area waar die misdaad gepleeg is, te besoedel soos dit in hierdie geval gebeur het.
Enigiemand wat dalk inligting het wat die polisie in die ondersoek kan bystaan, word versoek om die ondersoekbeampte, kapt Mollo Kgekoane van die Direktoraat vir Prioriteitsmisdaadondersoek (DPCI) by Sel: 082 338 3140 te kontak.
Navrae:
Kolonel Adéle Myburgh
082 856 1731

