Pensionaris word bedwelm en geroof

Twee vroue wat na bewering ’n Verulam-pensioentrekker bedwelm en beroof het, is deur ’n private veiligheidsmaatskappy aangekeer en aan die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) oorhandig.

Reaction Unit South Africa (Rusa) het bevestig dat twee vroue aangekeer. Hulle het die pensionaris op 8 November 2024 genader en aangebied om vir hom tee te maak nadat hy hulle ingenooi het.

“Die man het etlike ure later wakker geword en gevind dat sy huis geplunder is,” het Prem Balram, Rusa-baas, gesê.

‘n Onbekende bedrag geld, drie selfone, Oosterse klere, handelsmerk skoene en ander waardevolle besittings word vermis.

Die vroue wat agter maskers verskuil was, is op CCTV kameras gesien waar hulle die perseel verlaat het. Die een vrou (39) is geïdentifiseer en is in Chatsworth aangekeer. Sy het gesê sy was onbewus daarvan dat die slagoffer bewusteloos was.

Sy het die inligting van die ander vrou met Rusa gedeel en sy (47) is by ‘n kleuterskool in Sunford, Phoenix gearresteer.

“Sy het gesê sy het op Facebook met die pensionaris bevriend geraak en het Vrydag ’n Uber na sy huis geneem in die verwagting dat sy vir die besoek vergoed sal word.”

‘n Saak is by die Verulam SAPD aanhangig gemaak.

Nota: Lesers word weer eens gewaarsku om bedag te wees vir “scammers”. Hulle is bedrywig op alle sosiale platforms. Daar is geen waarborg dat ‘n totale vreemdeling wat jou nader, nie kriminele intensies het nie. Wees versigtig wat u op sosiale media plaas….dis ‘n broeiplek vir mensehandel (veral kinders), sielkundige afpersing vir geld en dan natuurlik pornografie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui