https://twitter.com/FearedBuck/status/1855641371752710336
Volgens nuusberigte is die skip met ‘n skielike storm met skerp en volgehoue winde getref. Dit het die vaartuig aan die kus van Afrika in die see laat kantel.
Die vaartuig was naby Tenerife, die grootste van Spanje se Kanariese Eilande toe dit deur ‘n “onverwagse windvlaag” getref is, het Royal Caribbean Cruises in ‘n verklaring gesê. Die wind het veroorsaak dat die skip “skielike beweging” ervaar het, is berig.
Volgens Cruise Hive het die voorval op Royal Caribbean se Explorer of the Seas op 7 November plaasgevind. Orkaansterkte winde het veroorsaak dat die 137 308 bruto ton vaartuig op sy sy gekantel het, wat chaos aan boord veroorsaak het.
Dramatiese beeldmateriaal wat aanlyn verskyn het, wys chaos wat aan boord van die skip ontvou, met meubels wat stukkend geslaan word en passasiers wat sukkel om regop te bly. Die video wys borde en glase wat op die grond gebreek is terwyl bemanningslede paniekbevange passasiers probeer kalmeer het.
Die Explorer of the Seas het meer as 5 000 bemanningslede en passasiers vervoer toe die fratsweerverskynsel dit laat kantel het. Gelukkig is geen ernstige beserings aangemeld nie, hoewel sommige passasiers en bemanningslede noodhulp benodig het vir geringe snye en kneusplekke.
Passasiers het ook op Facebook berigte geplaas om hul ervaring te deel, met een persoon wat geskryf het: “Ek is ook op die skip, vreesaanjaend in die eetkamer met borde wat oral stukkend slaan, mense wat skree en tafels en kos oraloor.”
Volgens Beaumont Enterprise is gaste gevra om na hul kamers terug te keer sodat daar van almal verantwoording gedoen kan doen en elkeen geverifieer kan word.