Vrou op ventilator ná huisroof in Brits

’n Vrou (61) is op ’n ventilator, en haar man (65) is in ’n ernstige toestand nadat hulle Vrydag gewelddadig in hul huis in Brits aangeval is.

Die egpaar is wreed aangerand en die vrou is in hul huis in Schuttestraat verwurg. Albei het ernstige kopbeserings opgedoen en die vrou is in ‘n waakeenheid op ‘n ventilator.

Volgens polisiewoordvoerder, kolonel Adele Myburgh, het drie gewapende mans Vrydagoggend om 10:00 die egpaar se eiendom betree.

“Een van die vroulike werkers op die eiendom was buite en het gesien hoe die mans die eiendom binnekom. Sy het geskree en na die huis gehardloop. Hulle het haar in die huis ingehaal en haar saam met nog twee werkers oorval. Hulle is vasgebind en gedwing om op hul maag te lê,” het Myburgh gesê.

“Die rowers het na die boonste verdieping van die huis gegaan en die egpaar in die bed oorval. Hulle het in die vroeë oggendure van die Kaap af teruggekeer huis toe en het nog geslaap. Hulle is erg geslaan en rondgestamp en die man is met ’n vuurwapen oor die kop geslaan. Weens hul ernstige beserings en trauma kon die polisie nog nie vasstel wat die rowers uit die huis geneem het nie,” het Myburgh gesê.

Brits-polisie ondersoek ‘n huisroof en niemand is nog in hegtenis geneem nie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui