Voormalige finansiële hoof van ‘n Noordwes-munisipaliteit in hegtenis geneem vir bedrog

Die Valke in Noordwes het ‘n 45-jarige verdagte in hegtenis geneem vir beweerde bedrog en oortreding van die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur.

Die verdagte is Maandag in Heidelberg in hegtenis geneem ná bewerings van bedrog en oortreding van die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur in die verkryging van ‘n motorvoertuighuurdiens vir die burgemeester.

Die 45-jarige man is die voormalige Hoof Finansiële Beampte (CFO) by die Lekwa Teemane Plaaslike Munisipaliteit in Christiana.

Tinyiko Mathebula, woordvoerder van die Valke, sê berigte dui daarop dat die verdagte van April tot Mei 2022 motorvoertuighuurdiens vir die burgemeester bekom het sonder om behoorlike voorsieningskettingprosesse te volg.

“Gevolglik het die munisipaliteit ‘n verlies van meer as R167 000,00 gely. Die verdagte moet Dinsdag in die Christiana-landdroshof verskyn op drie aanklagte van bedrog en oortreding van die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur.”

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui