Die res van die borgtogaansoeke sal na verwagting Donderdag in die landdroshof in Bronkhorstspruit aangehoor word.
Die berugte diamanthandelaar Louis Liebenberg en sy vrou, Dezzi, en sewe ander staan Donderdag tereg op 42 aanklagte van bedrog, diefstal, rampokkery en geldwassery.
Die res van die beskuldigdes is Walter Niedinger, Liebenberg se voormalige prokureur, Ronelle Kleynhans, mededirekteur van sy maatskappy Tariomix, Nicky van Heerden, sy persoonlike assistent, Dewald Strydom, ‘n voormalige werknemer, Helena Schulenburg, voormalige kantoorbestuurder, asook twee ander voormalige direkteure van sy maatskappye, Hannes en Christelle Badenhorst.
Diamantbeleggers is sedert 2019 met meer as R4 miljard bedrieg, het kolonel Philani Nkwalase, woordvoerder van die Valke, in ‘n verklaring gesê.
Die bedrogspul is bedryf onder Liebenberg se maatskappy Tariomix, beter bekend onder sy handelsnaam Forever Diamonds and Gold (FDG).
Borgtog van R20 000 elk is ‘n week gelede aan Kleynhans en Schulenberg toegestaan. Niedinger is op borgtog van R100 000 vrygelaat.
Die res van die borgtogaansoeke is Donderdag in die landdroshof in Bronkhorstspruit aangehoor. Al vier aansoeke is toegestaan.
Borgtog ten bedrae van R 5 000 word aan Christelle Badenhorst toegestaan, hoewel die landdros aangedui het dat haar saak kommerwekkend is. Hy het egter besluit om haar vry te laat om by haar kinders te wees.
Hannes Badenhorst, haar man, word op borgtog ten bedrae van R15 000 vrygelaat.
Dewald Strydom word op borgtog ten bedrae van R20 000 vrygelaat.
Vier aanklagte is by klagte gevoeg
Hanna Conradie, staatsaanklaer, het in die hof bevestig dat nog vier aanklagte by die akte van beskuldiging gevoeg word. Die vier aanklagte wat bygevoeg is, is een van diefstal en drie van korrupsie. Die aanklagte van korrupsie is teen Louis, Dezzi en Kleynhans.
Louis se lewe het ‘hel gemaak’ in die tronk
Louis se regsverteenwoordiger het in die hof gesê Louis se wens is om dit op rekord te plaas dat hy oor die telefoon gehoor het hoe Dr. Pieter Groenewald, minister van korrektiewe dienste, aan die hoofde van die Kgosi Mampuru-gevangenis gesê het “om sy lewe hel in die tronk te maak”. Sy regsverteenwoordiger sê hy word na bewering ook met aanranding gedreig.
Die saak word tot 15 November uitgestel.