Wyle mnr. Sybrand Smit se gedenkdiens is op 29 Oktober in Vanderbijlpark gehou.


VANDERBIJLPARK. – ‘n Bekende staatmaker in die plaaslike Vryheidsfront Plus (VF+), mnr. Sybrand Smit, het 17 Oktober onverwags aan ‘n hartaanval beswyk. Dit was slegs drie dae voor sy 66ste verjaardag. Mev. Gerda Senekal, VF+ raadslid in die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit, sê sy afsterwe is ‘n groot verlies vir die Party en vir die mense van Wyk 25, vir wie hy ‘n ware steunpilaar was.
“Sybrand het in 2019 as ‘n aktivis by die VF+ aangesluit. Hy het later ‘n aspirantkandidaat in die plaaslike verkiesing van 2021 geword, en na intensiewe insette is hy tot raadslid verkies. Hy het baie hard gewerk in Wyk 25, waar hy die proporsionele raadslid vir die Party was. Hy was geliefd in sy gemeenskap en was ‘n groot staatmaker vir hulle,” sê raadslid Senekal. Sy tree as woordvoerder vir die Smit-gesin op omdat hulle nog te ontwrig is om medianavrae te hanteer.
Sybrand is op 20 Oktober 1958 gebore en het in Benoni en die Noord-Oosrand grootgeword en skoolgegaan. Hy woon sedert 1981 in die Vaaldriehoek, waar hy as tuinboukundige by Sasol aangesluit het.
“Hy was uitgesproke en het konserwatiewe waardes gehad. Hy was baie beskermend oor sy geliefdes, sy kollegas en die mense in sy wyk. Daarby was hy ook ‘n groot diereliefhebber. Hy het gelewe vir sy vrou, sy gesin en hul diere. Hy het gehou van ‘selfdoen’ en om met sy hande te werk. Ons sal hom onthou as iemand wat altyd behulpsaam en vriendelik was; altyd gereed om te dien en te help,” sê raadslid Senekal.
Hy word oorleef deur sy vrou Imelda, seuns Ruan en Xander, twee dogters, Monique en Kyla uit sy vorige huwelik, en twee kleinkinders. Sy kinders woon onderskeidelik in Amerika, Australië, Port Elizabeth en Pretoria. Hy laat ook twee broers en ‘n suster agter.
Die Smit-familie het op Dinsdag 29 Oktober afskeid van Sybrand geneem tydens ‘n lewensvieringsdiens in Vanderbijlpark.
Raadslid Senekal het haar innigste simpatie aan Sybrand se familie, vriende en kollegas uitgespreek.
Mnr Smit het nie gehuiwer om voortdurend druk op die Emfuleni plaaslike munisipaliteit en enige betrokke entiteit te plaas om die nodige instandhouding te doen nie. Hy het sy amp met absolute erns en toewyding gedien en “kan nie” het nie in sy woordeskat plek gehad nie.
Rietspruit brug – binne 17 maande herstel


Voortdurende druk van die VF Plus in die Emfuleni-plaaslike munisipaliteit op Gautrans het daartoe gelei dat die brug oor die Rietspruit eindelik herbou is. Die Rietspruitbrug is Maandag (22 Julie 2024) weer amptelik in gebruik geneem. Die Rietspruitbrug tussen Vanderbijlpark en Potchefstroom is op 18 Februarie 2023 ernstig beskadig ná swaar reën. Motoriste moes van ʼn alternatiewe roete gebruik maak om hul bestemmings te bereik. Die plaaslike gemeenskap het kort ná die voorval besluit om die aangrensende laagwaterbrug wat in 1929 gebou is, weer toeganklik te maak. Net ligte voertuie kon egter die brug gebruik. Die VF Plus het voortdurend druk op Gautrans geplaas om die Rietspruitbrug te herstel. Gautrans het in Maart vanjaar begin met die herbou van die brug en dit is tot groot verligting van die gemeenskap Maandag heropen. Hierdie is weereens ʼn bewys dat die VF Plus (met Mnr Smit se dryfkrag) alles in sy vermoë sal doen om owerhede te dwing om beskadigde infrastruktuur te herstel tot voordeel van die gemeenskap.
Vaaloewer kragopwekker by watersuiweringsaanleg herstel

Danksy volgehoue druk van die VF Plus (met Mnr SMit as dryfkrag) op Randwater om ‘n kragopwekker by die Vaaloewer-watersuiweringsaanleg te herstel en ‘n versoek aan Eskom om beurtkrag vir vier weke by dié aanleg op te skort, is die reservoir wat Vaaloewer bedien, weer vol water. Vaaloewer, wat onder die Emfuleni-plaaslike munisipaliteit val, se dorpsgebied het aan die begin van Desember ‘n watertekort ondervind. By nadere ondersoek is gevind dat die kragopwekker by die aanleg reeds vyf weke buite werking is. Weens verhoogde beurtkrag en met Emfuleni Metsi-personeel wat net van 08:00 tot 16:00 aan diens is en na ná-ure nie, is daar nie genoeg water na die reservoir gepomp nie. Die Vaaloewer-belastingbetalervereniging het ingestem om ‘n nuwe aansitter vir die kragopwekker te koop en Randwater het ingestem om bykomende personeel beskikbaar te stel vir ‘n tweede skof per dag. Eskom het ook ingestem om beurtkrag vir ‘n wyle te staak totdat die een miljoen liter reservoir vol is en die waterprobleme opgelos is. Die VF Plus sal die situasie by die Vaaloewer-watersuiweringsaanleg dophou om te voorkom dat die reservoir weer leegloop.
