Minstens 30 skole is beskadig.
Minstens vier mense is dood, en meer as 40 ander is die naweek tydens ‘n haelstorm in Bosbokrand, Limpopo, beseer.
Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) het Sondag ’n geel vlak 2-waarskuwing uitgereik vir erge donderstorms, wat hael, skadelike winde en swaar reën oor verskeie provinsies, insluitend Mpumalanga en Limpopo, voorspel.
“Donderstorms word Sondag en Maandag oor dele van Limpopo en Mpumalanga verwag. Sommige donderstorms sal na verwagting hewig word met hael, swaar reënbuie en sterk tot skadelike winde,” het die weerdiens gewaarsku.
Die SAWD het inwoners ook aangeraai om op te let vir skade aan infrastruktuur en voertuie weens hael en sterk wind.
Volgens adjunkminister van basiese onderwys, dr. Reginah Mhaule, is die vier lewens Sondagaand verloor.
Haelstorm beskadig skole
Volgens Mhaule het die haelstorm meer as 30 skole in die omgewing verder beskadig en ook die administrasie van die Nasionale Senior Sertifikaat-eksamen gedreig en skoolopleiding ontwrig aangesien meer as 10 hoërskole ernstig beskadig is.
“Ek wil graag die vinnige optrede van die distriksamptenare prys, wat Maandag ‘n krisis afgeweer het deur die matriekeksamen te beskerm wat soos beplan verloop het, ondanks die skade,” het Mhaule gesê.
“Die klaskamers van die laer grade wat nie geraak is nie, is in sommige skole gebruik, maar bowenal waardeer ons die vriendelike gebaar van ons kerke wat hul geboue aangebied het om vir eksamendoeleindes gebruik te word. Ons is opreg dankbaar.”
Maandagaand het swaar reën voortgeduur en nog huise in die dorpe beskadig. Kragtoevoer is onderbreek en sommige paaie is steeds nie toeganklik nie.
Geaffekteerde gebiede sluit Ximhungwe-, Thulamahashe-, Cottondale-, Maripe-, Shatale- en Maboke-kringe in.
‘n Beoordeling van die skade sal gedoen word, alhoewel dit deur voortdurende reën belemmer kan word, het Mhaule gesê.
Sy het ‘n beroep op gemeenskapslede gedoen om enige skade wat hulle teëkom, aan te meld, om nie riviere oor te steek nie en om die weeropdaterings van die weerdiens fyn dop te hou.
“Ons sal saam met ander staatsdepartemente en plaaslike regering voortgaan om die situasie te monitor en geaffekteerde gesinne te ondersteun. Ons dra ons meegevoel oor aan die families wat hul geliefdes verloor het en diegene wat hul besittings verloor het,” het dr Mhaule gesê.